Polisie lu00ea beslag op sestig bokse vol drank
Polisie lu00ea beslag op sestig bokse vol drank

Polisie lê beslag op sestig bokse vol drank

Misdaad
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg – Die Namibiese polisie het Maandag knap ná middernag in Pionierspark op 60 bokse drank beslag gelê.

Drie verdagtes is in hegtenis geneem, het die streekbevelvoerder van die Khomasstreek, komm. Joseph Shikongo, gister op 'n nuuskonferensie by die Windhoek-polisiekantoor gesê.

Volgens hom het die drie verdagtes reeds die boete van N$2 000 elk betaal.

Die bokse drank wat wissel van bier, wyn en likeur en vermoedelik van Okahandja afkomstig, is in drie voertuie in Hendrik Witbooiweg gekonfiskeer.

“Die koop en verkoop van alkohol is 'n kwessie vir die polisie. Vanaf 5 tot 25 Mei is 49 verdagtes in hierdie verband in hegtenis geneem,” het Shikongo gesê.

Hy het bevestig dat boetes van altesame N$60 000 reeds hiervoor uitgereik is, waarvan N$38 000 nog betaal moet word.

“Diegene wat nie skuld erken het nie, kan hul saak in die hof gaan stel.”

Shikongo het beklemtoon die gebruik van alkohol by die huis is nie verbode nie, maar wel op openbare plekke.

“Sodra alkohol van punt A na B vervoer word, raak dit 'n kwessie. Dit raak 'n uitdaging om te bewys waar en wanneer die alkohol gekoop is. Vermy dus liewer die vervoer van alkohol,” het Shikongo gemaan.

Hy ontken beweringe dat polisiebeamptes op drank beslag lê sodat hulle dit self gebruik.

“Dit is nie die waarheid dat ons die gekonfiskeerde drank drink nie. Geen persoonlike gebruik van alkohol onder polisiebeamptes word toegelaat nie.”



STANDAARDPROSEDURE

Shikongo versoek dat enige sulke polisiebeamptes onmiddellik gerapporteer moet word.

“Dit is duidelik aan polisiebeamptes gestel dat geen gekonfiskeerde drank, TV's, skootrekenaars of enige iets, geneem mag word nie.”

Shikongo het beklemtoon sake word aanhangig gemaak en gekonfiskeerde items geregistreer.

Hy het die media na die stoorkamer by die polisiekantoor geneem wat as Pol 7 bekend staan, waar alle gekonfiskeerde items geregistreer is en gestoor word.

Shikongo sê daar is prosedures wat gevolg word wanneer op drank beslag gelê word.

“Eerstens word na die vervaldatum van die drank gekyk. Die hof sal 'n besluit neem om die drank weg te gooi as die vervaldatum bereik is. Andersins sal dit op 'n openbare veilig verkoop word om 'n inkomste vir die staat te verkry,” het Shikongo verduidelik.

Hy het gemaan dat oortreders op die oortreding van beide die Covid-19-regulasies en die drankwet aangekla kan word en 'n stewige boete kan kry.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-11-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer