Polisie brand los op grondeisers
Augetto Graig
’n Klipgooi van rye leë massabehuisingshuise omhein met lemmetjiesdraad, het moedelose Rehobothers wat ’n daklose bestaan voer gisteroggend by die bekende boom in Kuvukiland bymekaargekom om oor hul lot te vergader.
Volgens mnr. Lukas de Klerk van die DTA is ’n vreedsame gemeenskapsvergadering belê om belanghebbendes in te lig oor die dorpsraad se besluit oor die honderde aansoeke vir grond, waarop tans gewag word. Die aansoeke is verlede jaar as deel van die Regstellende Herposisioneringsbeweging (AR) se landwye aksie ingehandig.
Vroue, kinders en bejaardes was deel van die groep wat later uit sowat 300 mense bestaan het. Lede van die polisie se spesiale reserwemag het omstreeks negeuur onder aanvoering van streeksbevelvoerder Andries van der Byl by die vergaderplek opgedaag.
Mnr. Piet Markgraaff (60), ’n pensioenaris, vertel: “Ek het hier onder die boom gestaan. Hulle het gesê ons moet daai kant toe staan, maar ons het niks verkeerd gedoen nie. Toe besluit die bevelvoerder hy doen nou net soos hy wil. Hulle het begin skiet en so tien skote het hier teen die boom geklap en toe skiet hulle op my. Die eerste een het my net hier agter die blad getref. Nommer twee en drie het my daar in die rivier getref soos ek probeer weghardloop het,” sê hy.
’n Video wat deur een van die omstanders geneem is, wys hoe die polisie, gewapen met rubberkoeëls, op die groep mense losgebrand het.
’n Ander inwoner het aan Republikein gesê sy het saam met ander vroue voor die res van die groep gestaan, maar dit het nie die polisie gekeer nie. “Toe hulle hier aankom, was hulle reeds gewapen en reg vir geweld,” sê sy. Sy wou nie haar naam noem nie, maar mnr. Basie van Wyk was vinnig om die skade aan sy Nissan NP300-bakkie te wys waar die rubberkoeëls dit getref het.
Mnr. Abraham Kaibib (48), grondaktivis en ’n leier van die AR op Rehoboth, is saam met mnre. Melvin Beukes (46), Rudolf Bormann (45), Gavin Cloete (40) en Petrus Olivier (40) in hegtenis geneem. Al vyf sal na verwagting vandag in die dorp se landdroshof verskyn.
Me. Morietta Kaibib, Abraham se vrou, het later vertel ’n swanger vrou is ook saam met die groep mans in hegtenis geneem. Dit kon egter nie bevestig word nie.
Intussen het die polisie se woordvoerder in Windhoek, insp. Slogan Matheus, die voorval gister beskryf as ’n onwettige poging om grond te gryp. Hy sê Nampol was bewus van die AR se dreigement om gister op Rehoboth erwe af te baken en was gereed daarvoor.
Hulle was ook bewus van ’n uitstaande verkeersboete van Kaibib en was van plan om hom daar in hegtenis te neem.
Toe hulle Kaibib probeer arresteer, wou die ander betogers dit nie toelaat nie.
Die vier ander mans sal ook verskyn op klagte van openbare geweld, dwarsboming van die gereg en verhindering van polisiebeamptes om hul werk te doen.
Matheus sê hy het ook opdrag gekry om lt.genl. Sebastian Ndeitunga, hoof van die polisie, se boodskap aan die Namibiese publiek oor te dra.
“Luitenant-generaal Ndeitunga het inwoners wat grond onwettig wil gryp, gewaarsku om dit te staak.
“Hy sê verder die Namibiese polisiemag sal geen steen onaangeroer laat om te verseker dat mense wat grond gryp of ander opsweep om dit te doen, aan te keer nie. Hy waarsku dat sulke aksies die potensiaal het om chaos en anargie te veroorsaak.
“Sy beroep op alle vredeliewende Namibiërs is om dié tipe optrede te veroordeel. Die generaal het verder die publiek aangeraai om posedures te volg en grond wettig te bekom,” sê Matheus.
Teen druktyd gister was die AR se mnr. Dimbulukeni Nauyoma nog in gesprek met die dorpsraad en Van der Byl en sou hy later aan die gemeenskap terugvoering gegee het.
Die ontevrede Rehobothers het gedreig om die nag voor die dorpsraad se kantoor deur te bring indien die aangehoudenes nie vrygelaat word nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie