Pointbreak nou Ashburton

Ashburton sal onafhanklik van FNB Namibia se bankbelange bedryf word om te verseker beleggers se belange word voorop gestel.
Augetto Graig
Augetto Graig – Leiers van die plaaslike finansiëledienstesektor het verlede week in die hoofstad vergadering om die amptelike bekendstelling van Ashburton Investments, voorheen Pointbreak, te vier.

Die FNB Namibia-groep het in Maart aangekondig hy het volle beheer van EBank en Pointbreak verkry. Pointbreak is 'n beleggingsmaatskappy wat ‘n minderheidsaandeelhouding in Stimulus Investments besit. Op sy buurt is Stimulus die meerderheidsaandeelhouer in verskeie plaaslike maatskappye, insluitende Namibia Media Holdings (NMH) wat Republikein, Namibian Sun, Allgemeine Zeitung en Newsprint Namibia besit.

Ashburton is 'n internasionale beleggingsbestuurder. Die groep se benadering is om kliënte se individuele behoeftes te verstaan om insig in strategiese beleggingsuitdagings te kry en gepaste oplossings te vind.

Die maatskappy se uitvoerende hoof, Boshoff Grobler, het verlede week se geleentheid bygewoon. Volgens hom is Ashburton agente van verandering in die huidige moeilike ekonomiese omstandighede.

“Die manier waarop ons almal belê, moet verander. Ons kan nie net praat nie, ons moet doen,” sê hy.

Onafhanklik

Hy het huidige en toekomstige kliente verseker Ashburton word onafhanklik van FNB Namibia bedryf om te verseker beleggers se belange word eerste gestel.

Terselfdertyd sal die maatskappy baat uit die reuse- hulpbronbasis en die verspreide teenwoordigheid van die FNB-groep landwyd. Volgens hom betree Ashburton Namibië om meer mense te help belê, ook diegene wat nie vantevore kon spaar nie.

By die geleentheid het FNB Namibia Holdings se uitvoerende hoof, Sarel van Zyl, gesê hy is vol vertroue dié opwindende verwikkeling sal die groep in staat stel om meer doeltreffend en winsgewend in die globale mark mee te ding. Hy verwag Ashburton Investments sal beduidende waarde tot FNB Namibia Holdings voeg.

FNB is reeds 110 jaar in Namibië en het van net 12 werknemers in 1907 tot 'n gediversifiseerde groep met 2 200 Namibiese werknemers en 55 takke landwyd gegroei. In die 20 jaar sedert die groep op die Namibiese aandelebeurs (NSX) genoteer het, het sy markkapitalisasie van N$167,2 miljoen tot N$12,6 miljard gestyg.

Van Zyl het Josephat Mwatotele, voorheen die uitvoerende hoof van Pointbreak, met sy aanstelling as die uitvoerende hoof van Ashburton Investments Namibia geluk gewens.

Mwatotele het sy tevredenheid met die Ashburton-oorname uitgespreek en gesê daar is ooreenskomste tussen dié internasionale belegger se struktuur en benadering met Pointbreak se wenresep. Hy sê sy bekwame bestuur en ondersteuningspan is geskik om sáám verantwoordelikheid vir kliënte se beleggings te neem. “Ons is hier om resultate te lewer,” sê hy.

Kommentaar

Republikein 2025-05-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer