Pohamba gekritiseer oor uitsettings vanaf sy plaas

Augetto Graig
Augetto Graig en Enzo Amuele



Nege en sewentig jaar ná haar geboorte op die plaas Guinaspoh, moet me. Amanda Kairises, haar man Alfred en hul kleinkinders nou pad gee vanaf die grond.

Die plaas behoort aan oudpresident Hifikepunye Pohamba. Regter Shafimana Ueitele het op 29 September na 'n lang stryd in die hoërhof ’n uitsettingsbevel aan Pohamba se regspan toegestaan.

Die familie van ses sit sedert Vrydag langs die pad met hul eiendom. Hulle het nie skoon drinkwater nie en gebruik water uit 'n nabygeleë dam. Die paartjie sê hulle het nêrens om met hul vee heen te trek nie.

Pogings deur die goewerneur van die Oshikoto-streek, mnr. Penda Ya Ndakolo, om die geskil te beredder, het misluk en is gestaak nadat Pohamba se prokureur, mnr. Sisa Namandje, hom ingelig het die grond is nie in Oshikoto geleë nie, maar in die Otavi-distrik van die Otjozondjupa-streek.

Ya Ndakolo het ook briewe oor die saak aan Otjozondjupa se goewerneur, mnr. James Uerikua, en die adjunkminister vir randgemeenskappe, mnr. Royal /Ui /o /oo, geskryf, maar sonder enige sukses.

Namandje het namens Pohamba verlede week ’n versoek vir twee maande se uitstel om uitvoering aan die bevel te gee van die hand gewys.

Mnr. Henny Seibeb van die Landless People’s Movement (LPM) het die voorval Maandag bestempel as 'n voorbeeld hoe voorvaderlike grondregte, veral vir lede van randgemeenskappe, doelbewus ontken word. Seibeb beweer beide Pohamba en stigterpresident Sam Nujoma het grond van San-mense afgevat.

Volgens Seibeb is eerste minister Saara Kuugongelwa-Amadhila en president Hage Geingob ook deel van die "opperste staatselite" wat veral in die sentrale noorde groot stukke grond versamel. Die Hai//om San wat tradisioneel in Oshikoto, Otjozondjupa en dele van Kunene gebly het, is volgens die politikus basies heeltemaal grondloos weens hul verskuiwing.

Seibeb sê die oorblywende sowat 9 000 Hai//om San in Namibië oorleef nou in nedersettings soos !Naruseb by Otavi, Saamstaan by Grootfontein en die Kap-en-bou informele woonbuurte op Outjo, Otjiwarongo en Tsumeb.

“Die LPM verwerp die huidige hervestigingsbeleid wat bloot ’n fasade skep dat inheemse gemeenskappe toegang tot grond kry, veral in duidelike voorvalle soos die saak van plaas Duwib,” het Seibeb gesê. Die LPM probeer volgens hom sedert verlede jaar antwoorde van Kuugongelwa-Amadhila kry oor die plaas, wat aan die staat terugverkoop is.

Die minister verantwoordelik vir grondhervorming en die ombudsman doen volgens hom niks om hierdie "inname" van grond te verhoed nie.

Blykbaar het Pohamba ’n ooreenkoms met die vorige eienaar van Guinaspoh, mnr. Jaco Grobbelaar, aangegaan waarvolgens Grobbelaar N$1 000 per maand as huur vir die ou mense sou betaal tot hulle die plaas verlaat. Die huur is egter na bewering vir 16 jaar lank nooit betaal nie en Grobbelaar kon ook nie opgespoor word nie.

In November 2020 het die oudpresident aan Kairises en haar man geskryf dat hulle ook nie ’n ooreenkoms vir huur van N$12 ’n maand nagekom het nie, en daarom reeds in 2015 moes trek. Hy het hulle toe tot 28 Februarie gegee om te vertrek.

Pohamba het in die brief sy ontevredenheid uitgespreek met Kairises se pleidooie om hulp aan die United Democratic Front (UDF) en meer onlangs die LPM, wat veroorsaak het dat die kwessie in die parlement gedraai het.

Vrae aan Pohamba se kantoor was teen druktyd steeds onbeantwoord.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!