Podium wink vir Ingo in Dakar

Motorfietsry
Andrew Poolman
Met nog ’n derde plek in Woensdag se agtste skof, gevolg deur ’n uitstekende tweede plek in gister se skof, het Ingo Waldschmidt sy posisie onder die voorlopers in die Afrika Eco-tydren in Noord-Afrika verstewig.
Die Namibiese motorfietsryer het Woensdag se skof van 358 kilometer sowat 12 minute agter die skofwenner voltooi. Gister is hy net deur die algehele voorloper, Pal Anders Ullevalsetter van Noorweë, met 7 minute 57 sekondes geklop.
Met die eindpunt (Dakar in Senegal) komende Sondag nou binne bereik, het hy sy agterstand laat krimp tot net 23 sekondes agter die ryer in die algehele derde plek, Gilles Vanderweyen van België.
Soos in sy drie vorige suksesvolle afhandelings van Dakartydrenne in Suid-Amerika, was Waldschmidt se eerste prioriteit tot dusver om die wedren te voltooi, eerder as om onnodige kanse in jaagtogte te waag.
Met sy eerste deelname aan hierdie gesogte Afrika-tydren sal Waldschmidt nou alles in die stryd werp om ’n plek op die podium los te ry, wat sonder twyfel een van die grootste prestasies van sy loopbaan sal wees.
Hy het per satellietfoon aan sy vrou Lisa vertel dat Woensdag se skof heelwat stampe en stote aan elke ryer se liggaam ingehou het. Fiksheid was dus gewis ’n faktor, met die sogenaamde kameelgras wat jaers gedwing het om óf bo-oor te spring óf rondom te ry.
Die wegspring is met sowat ’n uur vertraag, wat vir Waldschmidt ’n bedekte seën was omdat hy vir die tweede opeenvolgende oggend probleme met sy battery ondervind het. Dit was selfs nadat hy die vorige aand ’n nuwe battery gemonteer het. Saam met sy gesoute werktuigkundige, Jan Hut van Nederland, is besluit om voortaan saans die battery te ontkoppel sodat die GPS-stelsels dit nie dalk tap nie.
Gister se skof in Mauritanië (vanaf Azougui tot by Akjoujt) het glo dele ingesluit wat nog nie tevore op die Afrika Eco-tydren se roetes was nie. Die skof was 366 km teen die horlosie, gevolg deur ’n kort aansluiting van 24 km, ofte wel 390 km vir die dag. Sand, met enkele rotsagtige dele, was die groot vooruitsig vir dié skof.
Waldschmidt het glo gister net een keer neergeslaan, maar gelukkig het sy enjin steeds geluier en het hy dus nie gesukkel om dit weer aan die gang te kry nie.
Vandag se tiende skof neem die jaers vanaf Akjoujt tot by Akreidil. Uit die totaal van 348 km is 342 km ’n resiesskof met net ’n kort aansluiting van 6 km. Minstens een ontsaglike sandduin sal glo in die proses oorgesteek moet word.
Uitputting sal die jaers nou begin inhaal – en boonop moet Waldschmidt nou glo vir die oorblywende dae in ’n oopplantent slaap nadat syne Woensdagaand geskeur het. In meerdaagse tydrenne van hierdie aard is die jaers se kampplekke in die duine gewoonlik nie ver van die geraas van waar die werktuigkundiges snags spook om seker te maak dat die enjins piekfyn vir die volgende dag se skof is nie.

Kommentaar

Republikein 2025-07-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer