Plan vir nasieskap, trots sien die lig
Plan vir nasieskap, trots sien die lig

Plan vir nasieskap, trots sien die lig

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



Die regering se plan om die gees van nasieskap te versterk en 'n gevoel van nasionale trots by burgers aan te wakker, is gister amptelik van stapel gestuur.

Dit behels die vestiging van burgerlike waardes ter wille van groter eenheid, vrede en stabiliteit. Daarmee saak takel die program maatskaplike tekortkominge, bevorder kulturele en tradisionele waardes, wakker die beskerming van die land se omgewingsbronne aan en bevorder Namibië as sake- en ­toeristebestemming.

Van die meganismes wat kom, is 'n handelsmerkraad vir Namibië en 'n nasionale kultuurgroep.

Pres. Hage Geingob het sy bekendstellingsrede, wat deur visepres. Nangolo Mbumba ­voorgelees is, gesê die ­regering was ná onafhanklikwording gemoeid met rekonsiliasie en nasiebou. Oor die jare het dit ontwikkel in die behoefte om Namibiërs van hulle ­nasieskap bewus te maak en om die verhaal van nasionale eenheid te koester en ontwikkel.

Geingob sê as die hoof van die Namibiese huis, is hy verbind daartoe om die etniese en stamgebonde spanning in die land te beveg.

Hy het oudpres. Kwame Nkrumah van Ghana ­aangehaal wat gesê het “die kragte wat ons saamsnoer is intrinsiek en groter as die invloede wat ons verdeel”.

“Laat ons die waardes ontgin wat Namibiërs inspireer en aanmoedig om mekaar met respek en waardigheid te behandel, ongeag hulle geslag, ras, godsdiensbeskouing of politieke ­affiliasie,” het Geingob gesê.

Hy het ook gepleit vir groter ­patriotisme.

Die program is geskoei op die strategiese raamwerk vir nasie­skap en nasionale trots en die implementeringsplan daarvoor wat vroeër deur die kabinet goedgekeur is.

Die ministerie van inligting en kommunikasietegnologie moet toesien dat dié doelstellings teen 2025 bereik word.

 [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer