Plakkers klóú aan plaas ondanks hofbevel

Niemand in hegtenis geneem

03 September 2018 | Afrika
Jeanne-Marié Versluis – Ten spyte van ’n uitsettingsbevel teen plakkers wat ’n swart boer met AfriForum se hulp bekom het, het nóg invallers gister op sy plaas naby Pretoria toegesak.

Hulle het ’n klipmuur by die plaashek afgebreek en boumateriaal met ’n klomp bakkies aangery.

Dr. Motodi Maserumule, mede-eienaar van dié 120 ha-plaas, se hofbevel wat hy Vrydag bekom het, het sover op dowe ore geval.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, sê daar het ’n stootskraper op Maserumule se grond aangekom om “erwe” skoon te skraap.

Volgens hom sou die balju en polisie waarskynlik vanoggend probeer om die uitsettingsbevel uit te voer.

As die besetters weier om pad te gee en dit help nie om die polisie daar te hê nie, sal die hulp van die Rooimiere dalk ingeroep word, het Cameron gister gesê.

“Ek is taamlik seker dit gaan in geweld ontaard as die balju en die polisie môre daar aankom om hulle af te sit. Ek het lank laas so ’n aggressiewe groep mense gesien. Hulle is behoorlik opge-charge.

“Ek weet nie wat hulle met die afgebreekte klipmuur wil doen nie. Dalk met die klippe huise bou of die pad versper.”

Hofbevele om onwettige plakkers te verwyder is een ding, maar om dit uitgevoer te kry, is ’n ander saak.

Selfs die regering se eie departement van menslike nedersettings kon ná drie hofbevele steeds nie ontslae raak van mense wat onwettig by 888 leë laekoste-huise in Centurion ingetrek het nie. Die plakkers het die sleutels uit die ontwikkelaar se kantoor gesteel en ingetrek en die polisie wou volgens die regering nie help nie.

Die hof het die eerste keer einde verlede jaar al met ’n bevel die inval van plakkers probeer keer. Die regering het met die beskerming van die Mamelodi-polisie, openbare-orde-polisie, die Tshwane-metropolisie én ’n private veiligheidsmaatskappy inbeweeg om net te gaan tel hoeveel bykomende plakkers daar is, terwyl hulle oogkontak met die plakkers vermy het, het die hof gehoor.

In Junie het die departement die uitsettingsbevel teen die besetters gekry. Die hof het gesê hulle moet teen 30 Junie trek, maar dit het nie gebeur nie.

Die hof het in Julie wéér beslis hulle moet skoert, maar toe het protesoptrede uitgebreek.

Keith Khoza, die departement se woordvoerder, het daarna aan Rapport gesê hulle moet hulpbronne bymekaar maak om die uitsetting te kan doen.

Maserumule, ’n wiskundige en uitvoerende direkteur van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR), hoop sy situasie word gouer ontlont.

Vroeër die week was daar sowat 30 hutte. Die besetters vra R500 vir ’n “woonerf” en R1 000 vir ’n “sake-erf”. Dit word vanuit ’n gehuggie wat as ’n “kantoor” beskryf word “verkoop”.

Vrydag se hofbevel sê die balju mag en moet dadelik alle onbewoonde hutte op die plaas afbreek en die boumateriaal verwyder. Die stasiebevelvoerder van Soshanguve moet alle redelike maatstawwe toepas en met “hul beskikbare hulpbronne” die balju hiermee help.

Die bevel het die mense ook uitdruklik verbied om verder te plak soos hulle gister gedoen het.

Die grond behoort sedert 2007 aan Maserumule en sy sakevennote Kgoshi Phaahla en Diphete Bopape. Hulle wil dit vir behuisingsontwikkeling gebruik.

’n Vriend van Maserumule het hom Maandag gebel om te sê hy sien daar is moeilikheid op die grond.

Toe Maserumule met die plakkers gaan praat en sy titelaktes wys, het hulle hom gedreig, sê hy in hofstukke. Hy is toe na die Soshanguve-polisiekantoor en het ’n klag van betreding probeer indien, maar die polisie het geweier om die klag te aanvaar.

Maserumule kon Dinsdag so ’n klag indien nadat AfriForum druk op die polisie geplaas het. Daarna het die polisie egter niemand vir betreding in hegtenis geneem nie. ’n Raadop Maserumule het teen Woensdag die hof genader.

Hy sê in die stukke die polisie is grondwetlik verplig om eiendom te beskerm en misdaad te voorkom.

Hy sê Donderdag het een van die besetters selfs gedreig dat ’n “joernalis wat die grond besoek het, verkrag sal word as sy aanhou vrae vra”.

“Die groep het duidelik geen respek vir reg en orde nie.” – Netwerk24

Soortgelyk

 

'Boere se veglus verdwyn'

2 ure gelede | Landbou

Ronelle Rademeyer en Elvira Hattingh - Twee bekende boere van die Suide sê die droogte het boere op hul knieë.“Ek was gister by ’n veiling...

Egpaar herontdek skaars plantjie

2 ure gelede | Omgewing

Denver Kisting – ’n Dekaan by die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust), dr. Rolf Becker, en sy vrou, me. Alma Moller, het verlede...

Kalender 18 Januarie

2 ure gelede | Kuns en vermaak

Nou aan die gang» Die Nasionale Kunsgalery van Namibië (NAGN) bied met trots Unam se beeldende kunste-uitstalling vir 2018 aan. Dié uitstalling is tans...

'DRK maak staat op ons'

2 ure gelede | Politiek

Inwoners van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) maak staat op lande deel van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) om die land weer op die...

Operasie Hornkranz: Meer misdaad aangemeld

2 ure gelede | Misdaad

Augetto Graig Die Namibiese polisie het Woensdag by die Israel Patrick Iyambo-polisiekollege in Olympia terugvoering gegee aan die visepresident, mnr. Nangolo Mbumba, en die...

Weer vir 18 Januarie

2 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en warm tot baie warm in die //Kharasstreek, andersins gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm met 'n paar tot geïsoleerde donderbuie in...

'Die beste tyd van my lewe'

2 ure gelede | Kuns en vermaak

Lloyd ZandbergDie 22-jarige gebore Namibiër Kyle Farrer verwys na homself as koel en kalm. Jy kan dit aan sy voorkoms sien. Eenvoudig, maar deurdink, ‘n...

Besige jaar vir Windhoek se DBV

2 ure gelede | Omgewing

Mariselle Stofberg- Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Windhoek het 3 695 diere gedurende 2018 ingeneem. Altesaam 2 207 honde, 1 434 katte en 54 ander diere...

Vreemde voetspore is dit toe nie

2 ure gelede | Plaaslik

Francoise Steynberg - Groot was die opgewondenheid van die boer mnr. Frederick de Koker toe hy in November verlede jaar vreemde "voetspore" in rotsformasies naby...