Plaaslike entrepreneur skep met sement

Wil dorp se tuine versier, voëls lok
Gerine Hoff
Barry de Klerk – Mnr. Patrick Kaaheke, ’n plaaslike entrepreneur en kunstenaar, is die talentvolle man agter kreatiewe handgemaakte produkte wat van sement gemaak is.
Kaaheke maak van potte vir plante, trappies vir die tuin tot voëltjiebaddens en ’n verskeidenheid standbeelde vir die tuin.
Kaaheke het aanvanklik dié produkte begin maak om tuine te verfraai en terselftertyd na die wilde voëls in die omgewing om te sien.
“Ek wil na die voëltjies kyk, want ek is mal oor voëls. Dit is juis hoekom ek die voëlbadjies maak – sodat ander voëlliefhebbers ook die kans kry om pragtige voëls na hul tuine te lok,” het hy gesê.
Die potte het hy begin maak omdat hy baie plante in sy tuin het. Hy het dit gesien as ’n geleentheid om sy vaardighede te verbeter en om sy tuin te versorg. Daarna was dit ’n natuurlik stap om potte vir ander mense te maak. “En ek het nog geen klagtes ontvang nie!” sê hy.
“Nadat ek gesien het hoeveel mense belang stel in my sementpotte, het dit my selfvertroue ’n hupstoot gegee,” sê Kaaheke. “Ek sou my sementprodukte as uniek beskryf. Jy sal dit nie in ’n ander dorp kry nie, net op Okahandja.”
Hy verkies om nie self die produkte te verf nie sodat sy kliënte die opsie het om dit te versier in kleure wat hulle verkies. Al Kaaheke se produkte word teen ’n baie billike prys verkoop.
Op die oomblik is sy werkspasie nog aan die klein kant en maak hy net produkte in sy vrye tyd of op aanvraag.
“As die aanvraag vir my produkte meer word, dan sal ek meer vervaardig en dit ook gebruik om werksgeleenthede in die gemeenskap te skep,” het hy gesê.
Hy beplan ook om sy produkte by die komende Okahandja Ekspo uit te stal.
Kaaheke is ook die stigter van die dorp se vlooimark.
“Ek is ’n passievolle persoon wanneer dit kom by innovering, ontwerp, besigheidsontwikkeling, gemeenskapsontwikkeling en die omgewing,” het Kaaheke gesê.
“Ek geniet dit om nuwe dinge te skep en dit gee my die geleentheid om ? verskil te maak.”
Vir navrae oor die produkte, kontak Kaaheke by 081 143 3105.

Kommentaar

Republikein 2025-05-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer