Picky terug vir Eagles se Zimbabwe-stryde

Die reeks van ses wedstryde begin reeds komende Saterdag.
In die vierde Castle Lite-reeks hierdie jaar sal die Namibiese Eagles vanaf komende naweek teen die Ontluikende Zimbabwe-span in ses wedstryde (drie T20's en drie eendagwedstryde) by die Wanderers-veld te staan kom.

Die Castle Lite-reeks teen die Zimbabwiërs vorm deel van die Eagles se opbou na die T20 Wêreldbeker, wat oor minder as 70 dae begin. Die Eagles moet dus elke geleentheid aangryp om te verseker dat hulle slaggereed is om in die Verenigde Arabiese Emirate op hul mees kompeterende vlak te wees.

Die Namibiese hoofafrigter, Pierre de Bruyn, is verheug dat hierdie reeks vasgeknoop is as deel van die voorbereiding en opbou na die T20 Wêreldbeker.

Afgesien van die kolwer JP Kotzé en linkerarm-snelbouler Tangeni Lungameni wat nie die paal gehaal het nie, het De Bruyn sy spelersgroep feitlik ongeskonde behou wat laas in Aprilmaand met Uganda afgereken en ook die Ontluikende Suid-Afrika-span geklop het. Die kolwer en draaibouler Picky ya France maak sy terugkeer nadat hy dié twee reekse met 'n handbesering misgeloop het.

De Bruyn sê: “Ek voel die tydsberekening van hierdie wedstryde is van deurslaggewende belang om die spelers in staat te stel om in hul rolle te groei, asook om vir 'n plek in die Wêreldbeker-groep mee te ding.

“In T20-krieket is dit die intensiteit van die formaat wat jou toets en onder druk plaas. Hoe meer jy dit beoefen en die vlak van intensiteit ervaar, hoe meer kan jy as speler verbeter. Vir die hele spelersgroep is dit 'n puik geleentheid om 'n gesonde kompeterende omgewing te skep.”

Krieket Namibië se uitvoerende hoof mnr. Johan Muller sê: “Om internasionale spanne te lok om aan wedstryde op ons tuisbodem te kom deelneem, is deel van ons langtermynstrategie om die spel deur topklas blootstelling te bevorder.

“Ons is gelukkig om hierdie toer aan te kondig ná 'n periode waarin Namibië ernstig deur die Covid-pandemie getref is. Ons span se voorbereiding is in die laaste ses weke belemmer, maar hopelik kan ons weer 'n bietjie momentum herwin. Ons bedank Castle Lite wat hierdie toer help moontlik maak.”

Die Namibiese Eagles-spelersgroep: Gerhard Erasmus (kaptein), Stephen Baard, Karl Birkenstock, Michau du Preez, Shaun Fouché, Jan Frylinck, Zane Green, Nicol Loftie-Eaton, Dewald Nell, Mauritius Ngupita, Bernard Scholtz, Ben Shikongo, JJ Smit, Ruben Trumpelmann, Michael van Lingen, Craig Williams, Picky ya France.

Die skedule vir die Eagles vs Ontluikende Zimbabwe (alle wedstryde by Wanderers):

Saterdag, 14 Augustus: eerste T20 (11:00)

Sondag, 15 Augustus: tweede T20 (11:00)

Maandag, 16 Augustus: derde T20 (14:00)

Woensdag, 18 Augustus: eerste 50-beurtwedstryde (09:30)

Vrydag, 20 Augustus: tweede 50-beurtwedstryde (09:30)

Sondag, 22 Augustus: derde 50-beurtwedstryde (09:30)

Al ses wedstryde sal volledig en regstreeks op NBC (DStv kanaal 283) gebeeldsend word.

FOTO’s Batch Loftie-Eaton
JJ Smit
Michau du Preez

Kommentaar

Republikein 2025-08-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer