Pick n Pay beloof 15 000 poste binne 3 jaar
Pick n Pay beloof 15 000 poste binne 3 jaar

Pick n Pay beloof 15 000 poste binne 3 jaar

Werkskepping bly 'n uitdaging in Suider-Afrika en Pick n Pay se voorsitter beoog geleenthede vir jong mense.
Nellie Brand-Jonker

Gareth Ackerman, Pick n Pay se voorsitter, sê hulle wil 15 000 nuwe poste in die komende drie jaar skep.

Ackerman het aan beleggers by die aanbieding van die maatskappy se resultate vir die jaar tot einde Februarie gesê hulle gaan probeer om jong, werklose mense in diens te neem.

Ackerman sê die afgelope drie jaar is 13 700 nuwe poste geskep.

Die maatskappy se omset het in die boekjaar met 5,3% tot R81,6 miljard gestyg. Die wins vir die tydperk is 6,6% hoër op R1,2 miljard.

Ackerman sê die kleinhandelsektor is die laaste paar maande deur groot probleme in die gesig gestaar. Dit sluit die uitbreking van listeriose in, wat 180 sterftes veroorsaak het, asook die voortgesette droogte in die Wes-Kaap wat tot die moontlikheid van Dag Zero kan lei.

“Die aankondiging van die minister van gesondheid oor listeriose het wye kommer in die land oor voedselveiligheid veroorsaak.”

Volgens hom werk Pick n Pay hard agter die skerms saam met bedryfsliggame om seker te maak so ’n uitbreking vind nie weer plaas nie. Ackerman is medevoorsitter van die Verbruikersgoedereraad van Suid-Afrika en dit is een van sy prioriteite om seker te maak dit gebeur nie weer nie.

Oor die waterkrisis sê hy dat die feit dat Dag Zero afgeweer is tot dusver ’n “les in vertroue” is.

“Maatskaplike wetenskaplikes sê dikwels individue doen nie die regte ding nie, soos om watergebruik te verminder nie, omdat hulle nie vertrou hul bure gaan dieselfde doen nie. Tesame, deur mekaar te vertrou, het ons die teorie heeltemal verkeerd bewys.”

Volgens hom het hulle ’n sterk plan in plek as Dag Zero wel opdaag om seker te maak winkels bly oop.

“Ons sal soveel gebottelde water as moontlik verskaf. Ons sal nie ’n krisis soos water gebruik om wins te verhoog nie en sal gebottelde water so goedkoop moontlik hou.”

Ackerman het ook verwys na die optimisme wat nou in die land bestaan.

“Die verskil wat in ’n paar maande gemaak kan word, is ongelooflik. By ons halfjaarresultate in Oktober het ek gesê ons bevind ons in die moeilikste ekonomiese tye in baie jare. Die moeilike tye is nie weg nie, maar ons het nou ’n nuwe golf van optimisme in die land.”

Hy sê die sakebedryf en die regering moet saamwerk en die verhouding moet verder gaan as raad wat van die bedryf gekry word. Volgens hom moet dit insluit om die impak van wetgewing versigtiger te bekyk. Toegewyde heffings moet ook aangewend word waarvoor dit bedoel is pleks van om net na die staatskas te vloei.

“Hoewel toegewyde heffings nie gewild is nie, dink ek dit kan doeltreffend wees as die brandstofheffing byvoorbeeld gebruik word waarvoor dit oorspronklik bedoel was, soos vir die kritiek nodige instandhouding van paaie.

“Dieselfde geld vir plastieksakbelasting en suikerbelasting, wat bedoel was om werkskepping te bevorder in projekte wat ’n alternatief vir plastiek bied en om obesiteit te bekamp.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer