• Tuisblad
  • Sake
  • Phumelela bedank Markus Jooste vir sy bydrae
Phumelela bedank Markus Jooste vir sy bydrae
Phumelela bedank Markus Jooste vir sy bydrae

Phumelela bedank Markus Jooste vir sy bydrae

Die maatskappy se plaaslike perdewedrenbedrywighede, wat die verkoop van mediaregte van Suid-Afrikaanse perdewedrenne plaaslik en internasionaal behels, ly steeds ’n verlies.
Nellie Brand-Jonker – Phumelela Gaming & Leisure het in sy boekjaar tot einde Julie ’n verlies uit sy bedrywighede gely, maar met die bekendmaking van sy resultate Vrydag het hy ’n punt daarvan gemaak om Markus Jooste “vir sy bydrae” te bedank.

Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, was tot in Desember ’n direkteur van Phumelela.

Hy het by die perdewedrengroep bedank op dieselfde dag dat hy onder ’n wolk van omstredenheid as uitvoerende hoof van Steinhoff bedank het.

Phumelela toon in sy jaarresultate “in belang van deursigtigheid” dat Jooste se beleggingsmaatskappy Mayfair Speculators steeds 50% hou van die maatskappy Kalamojo Trading and Investments. Kalamojo hou op sy beurt weer sowat 9% van Phumelela. Die res van Kalamojo word deur ’n maatskappy gehou wat deur twee familietrusts van Bernard Kantor, voorsitter van Phumelela, besit word.

Phumelela se netto inkomste het in die afgelope boekjaar met net 1% tot R1,5 miljard gestyg. Die grootste deel van sy inkomste kom uit plaaslike weddery. Sy plaaslike perdewedrenbedrywighede, wat die verkoop van mediaregte van Suid-Afrikaanse perdewedrenne plaaslik en internasionaal, behels, ly steeds ’n verlies.

Phumelela ly ’n verlies voordat die bydrae van ondernemings waarin hy belange hou, bygereken word.

Sy bedryfswins het met 9% gedaal. Ná die koste van vrywillige skeidingspakkette het sy bedryfswins met 65% gedaal.

Finansieringskoste het met 70% gestyg en het veroorsaak dat die groep ’n verlies uit bedrywighede gely het.

Met Phumelela se deel van die wins van onder meer sy gesamentlike onderneming Premier Gateway International (PGI) en Interbet ingereken, het sy wins met 6% gestyg.

In die jaar het die getal uitgereikte aandele met 16% toegeneem ná ’n regte-uitgifte in 2017 om die verkryging van die belang in Supabets te finansier.

’n Slotdividend van 62c per aandeel is verklaar vergeleke met 70c per aandeel in die vorige boekjaar.

Phumelela het sy beleggers ook ingelig oor ’n regsgeding wat van 2014 dateer toe hy aangekla is van ’n oortreding van sy Turffontein-lisensie. Die oortreding hou met die video-uitsending van perdewedrenne verband.

Die dissiplinêre komitee van die Gautengse Dobbelraad het einde Augustus gevind Phumelela het inderdaad sy lisensievoorwaardes oortree. Die komitee het bevind Phumelela is verplig om die Tellytrack-diens aan alle wedders te verskaf, ongeag waar hulle geleë is. Die koste kan later verhaal word. Die komitee het op 19 September sy voorlopige aanbeveling bevestig.

“As die Dobbelraad bevind Phumelela het sy lisensievoorwaardes oortree in ooreenstemming met die komitee se aanbeveling, gaan ons die hooggeregshof nader om die besluit te laat hersien en tersyde te stel.”

Phumelela het beleggers ook verwys na die aankondiging in Julie dat die direksie aanvanklike gesprekke voer met belangegroepe in die volbloedperdebedryf en met die Thoroughbred Trust ten opsigte van die administrasie van perdewedrenne in Suid-Afrika en totalisator-weddenskappe.

“Dit kan lei tot ’n verandering in die eienaarskap van die administrasie van perderenne en weddenskappe.”

Benewens Jooste, is Peter Malungani, die vorige voorsitter wat in Desember ná 20 jaar afgetree het, ook bedank asook Rian du Plessis, uitvoerende hoof, wat op 17 September bedank het.– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer