Petrolbomme, skokgranate op kampus

Polisie ontken hardhandige, bloeddorstige­ optrede
Estelle de Bruyn
’n Groep betogende studente aan die Universiteit van Kaapstad (UK) het Dinsdagnag verskeie petrolbomme buite die gebou van die Steve Biko-studente-unie gegooi wat brande veroorsaak het.

Volgens ’n verklaring van die universiteit het die groep studente om 18:00 buite die gebou byeengekom.

“Ná middernag het die groep tot sowat 200 toegeneem. Hulle het die sekuriteitsbeamptes met klippe begin bestook en met stokke aangeval,” lui die verklaring.

Hulle het die gebou bestorm en deure en vensters gebreek.

“Die sekuriteitsbeamptes het probeer om ’n menseketting te vorm, maar twee studente het deur die ketting gebreek en die gebou binne­gegaan.

“Verskeie petrolbomme is in die P9-parkeerterrein by die gebou gegooi wat brande veroorsaak het.”

Die studente het daarna glo verskeie brande op die kampus gestig.

Sekuriteitsbeamptes het probeer om die brande te blus en om die groep uiteen te jaag.

Een sekuriteitsbeampte is beseer.

“Die polisie is om 01:00 na die kampus ontbied. ’n Lid van die polisie is met klippe bestook. Die polisie moes ses skokgranate gebruik om die betogers onder beheer te kry.”

Teen ongeveer 02:57 was die brand by die Jammie-plaza steeds nie geblus nie.

“Die universiteit hoop om die situasie onder beheer te kry sodat die universiteit Woensdag oop kan wees.”

Betogers het die Steve Biko-gebou die afgelope twee weke onwettig beset as deel van die #FeesMustFall-­betogings.

Hulle is Dinsdag om 16:30 die gebou belet.

Dis oorlog by Wits

’n Klankgreep waarvolgens ’n wit student op Wits eers moet doodgaan voordat die rektor aan betogers se eise gehoor sal gee, is moontlik bedoel as ’n afskrikmiddel vir dié wat aan #TakeBackWits, ’n teenreaksieveldtog, wou deelneem, sê die universiteit.

“Ons het dit (die klankgreep) na ons veiligheid- en regsafdelings verwys om te kyk of hulle die oorsprong daarvan kan bepaal,” het Shirona Patel, woordvoerder van die Universiteit van die Witwatersrand, Dinsdagaand gesê. Die klankgreep doen die rondte op sosiale media.

Daarin sê ’n ongeïdentifiseerde vrou die betogers glo prof. Adam Habib, visekanselier, is arrogant weens die wyse waarop hy die hele kwessie hanteer en dit maak studente net meer woedend.

“Dus sê hulle om Habib se aandag te kry, moet ten minste een wit student, manlik of vroulik, doodgaan?”

Die vrou sê as “hierdie kinders” voortgaan met hul protesaksie (vermoedelik #TakeBackWits) gaan hulle in ’n hinderlaag beland.

Wits se bestuur het Dinsdagaand in ’n verklaring gesê die universiteit sou gister weer oop wees, maar later aangekondig klasse sal eers Maandag ten volle hervat. Dis om ’n proses van bemiddelde onderhandelinge tussen studentegroepe, die bestuur van die universiteit en ander rolspelers toe te laat, lui die verklaring.

“Ons het ingestem om die polisie op die rand van die kampus te laat stelling inneem op voorwaarde dat alle partye hulle uitdruklik daartoe verbind dat geen geweld of intimidasie van studente en personeel sal voorkom nie.”

Voormalige studenteleiers, met die steun van kerkleiers, sal vandeesweek bemiddel in ’n proses om konsensus te probeer bereik met die oog op ’n algemene vergadering Vrydag onder voorsitterskap van die kanselier.

Habib het aan eNCA gesê die universiteit sal met lede van die #FeesMustFall-veldtog onderhandel, maar die afhandeling van 2016 se akademiese jaar is wat hom betref nie onderhandelbaar nie.

Van dié studente het laatmiddag gesê hulle gaan steun op ander kampusse werf, berig EWN.

Intussen het lt.genl. Khomotso Phahlane, waarnemende polisiehoof, Dinsdag op ’n mediakonferensie gesê die polisie verwerp aansprake dat hulle bloeddorstig is en nóg ’n Marikana wil hê.

Die polisie het niemand se toestemming nodig om misdaad op enige plek in die land te bekamp nie, het hy gesê ná beskuldigings dat sy lede hardhandig en bloeddorstig opgetree het.

Die polisie het skokgranate en rubberkoeëls gebruik om betogers op Wits se Braamfontein-kampus uiteen te jaag.

“Om klippe te gooi en rubberkoeëls te skiet, kan hoegenaamd nie as ’n oplossing beskou word nie. Ons weet die polisie word uitgelok, maar ons sal te alle tye die maksimum selfbeheersing toepas,” het Phahlane gesê. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer