Pensioenaris se N$100-noot toe nie vervals
Pensioenaris se N$100-noot toe nie vervals

Pensioenaris se N$100-noot toe nie vervals

Catherine Sasman
Catherine Sasman - Die Bank of Namibia (BoN) sê ’n beweerde vervalste N$100-noot wat in Augustus as deel van ’n pensioenuitbetaling aan me. Annelise van der Merwe op Maltahöhe gemaak is, was nie vervals nie, maar wel ’n ouer weergawe van banknote wat in 1993 uitgereik is.

Ná ’n berig oor die beweerde vervalste banknoot gepubliseer is, het die BoN Van der Merwe se familie gekontak om te bepaal of die noot inderdaad vervals is.

Die bank het ná sy ondersoek bevestig dit is wel die ware Jakob en dit bloot die sekuriteitskenmerke is wat van die meer onlangse N$100-banknote verskil.

Die BoN het nie gesê hoekom só ’n ou noot nog in omloop is nie. Dit het wel gesê die handtekening op die ou banknoot is dié van die Sweedse burger mnr. E. Karlsson, wat vanaf September 1991 tot April 1993 die bank se president was.

Die bank het benadruk dat lede van die publiek wat dink hulle het moontlik ’n vervalste banknoot ontvang, dit onmiddellik by die polisie of by die bank moet aanmeld.

Kassiere

NMH het onlangs berig dat Van der Merwe se familie beweer ’n vervalste N$100-noot is in ’n pensioen­uitbetaling van die poskantoor op Maltahöhe ontvang nadat ’n kassiere by Checkers in Maerua Mall haar daarop attent gemaak het.

NamPost en Standard Bank op Mariental het ontken dat hulle vervalste banknote in maandelikse pensioenuitbetalings versprei.

Die posmeester op Maltahöhe, me. Claire Januarie, het erken dat personeel by die poskantoor in die verlede op vervalste N$200-banknote onder pensioengeld afgekom het, wat hulle terugbetaal het aan die pensioenarisse wat daardeur geraak is.

Kommentaar

Republikein 2025-06-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer