'Pastore' se vroue ook vas vir sterftes
'Pastore' se vroue ook vas vir sterftes

'Pastore' se vroue ook vas vir sterftes

Hofsake tot Januarie 2022 uitgestel
Sanet de Waal
Kenya Kambowe op Rundu



Die vroue van die twee selfverklaarde pastore uit Kavango-Wes wat van drie moorde en poging tot moord beskuldig word, het Donderdag in die landdroshof op Rundu verskyn nadat hulle in hegtenis geneem is en op dieselfde aanklagte as hul eggenote teregstaan.

Die twee verdagtes, mee. Corneria Sizura Sikukutu (28) en Maria Vihoma Fernando (20) het voor landdros Barry Mufana verskyn, wat hulle borgtog van N$800 elk toegestaan het.

Borgtog is toegestaan aangesien daar geen geriewe is waar die vroue se babas versorg kan word nie.

Die saak is tot 12 Januarie 2022 uitgestel terwyl die polisieondersoek voortduur.

Die duo is op 21 September in hegtenis geneem ná polisieondersoeke hulle verbind het met die drie moorde waarvan hul mans, die selfverklaarde pastore Elia Ihemba (36) en Engelberth Hamutenya (25), beskuldig word. Hulle het na bewering vier lede van hul kerk 'n konkoksie van brandspiritus, asyn, sout en olyf­olie ingegee wat via 'n pyp in die slagoffers se rektums toegedien is, waarna drie dood is.

Die oorledenes is Ntamba Evaristus Ndumba (37), Nangombe Robertha Ndumba (45) en Kapango Hilka Simbaranda (21).

Ons susterkoerant Namibian Sun het verneem Sikukutu en Fernando is in hegtenis geneem nadat die oorlewende van dié voorval, me. Rosa Ndumba (39), besonderhede verskaf het.

Pogings om duidelikheid oor die saak by die polisie te kry het teen druktyd nog niks opgelewer nie, maar Namibian Sun het van 'n betroubare bron verneem Ndumba het 'n verklaring by die polisie afgelê wat die twee vroue se betrokkenheid as verdagtes in die saak aangevoer het.

Wat die twee selfverklaarde pastore betref, bly hulle in polisieaanhouding nadat hulle op 10 September borgtog geweier is tydens hul eerste verskyning in die Kahenge rondgaande hof.

Borgtog is geweier weens die erns van die saak en omdat dit nie in die belang van regspleging of die openbare belang sal wees nie.

Mnr. Godfrey Shivolo is die staatsaanklaer. Hulle saak is ook tot 12 Januarie volgende jaar uitgestel.

 - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer