Passiemoord op die planke
Passiemoord op die planke

Passiemoord op die planke

Lloyd Zandberg
Die Nasionale Teater van Namibië (NTN) bied aan Deur die tralies van my hok, 'n drama met teks en regie deur veteraan regisseur Kubbe Rispel.

Dis die tragiese verhaal van 'n meisie wat die besitting van haar kêrel word en 'n slagoffer van jaloesie is - wat eindelik lei tot haar tragiese dood.

Hierdie tragiese gebeure kan enige vlak van die samelewing raak soos in hierdie geval waar ons karakters kry soos Ben, 'n skatryk, gesofistikeerde, hoogs gemotiveerde entrepreneur met 'n pragtige huis.

Dan is daar Mandy, sy verloofde, 'n saggeaarde onderwyseres wat omgee vir ander. Sy is pragtig binne en buite en is by die maatskaplike opheffing van die gemeenskap betrokke.

Sy voel baie sterk oor gemarginaliseerdes en agtergeblewenes in die wêreld, soos Kapie en Ou Toppie wat los werkies in die rykmansbuurt doen, maar wat eintlik mense­kenners en goeie waarnemers is.

Hul kommentaar oor die gedrag en slegte gewoontes van die rykmense is soms die enigste waarheid binne hierdie geslote gemeenskappe. Dan is daar Jack en Joy, Mandy se boheemse, hippierige vriende wat vir Ben afstootlik vind en so die reeds bestaande wrywing en konflik verhoog wat uiteindelik lei tot 'n passiemoord. Vir die toeskouer is hierdie soort geweld onnodig, maar is daar enige regverdiging vir ­passiemoord?



Rolverdeling:

Ben – David Ndjavera

Mandy – Khadija Mouton

Kapie – Clive van Wyk

Ou Toppie – John Isaacks

Verteller – Bianca Heyns

Joy – Whilzahn Gelderbloem

Jack – Romulus Pieterse

Regter – Joalette de Villiers

Die drama is op 27 en 28 Oktober by die NTN op die planke om 20:00.

Kaartjies is beskikbaar by Computicket, asook by die NTN-kaartjiekantoor teen N$80. N$50 vir kinders, studente en pensioenarisse.

Kommentaar

Republikein 2026-09-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer