Passasiers gil, huil toe hyser val

Nóg Air Namibia nóg die Namibië Lughawensmaatskappy het tot dusver amptelik gereageer op die insident waartydens passasiers Vrydagaand by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako beseer is nie.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



Ten minste drie van die agt passasiers wat Vrydagaand beseer is toe die hysertoestel geval het waarmee hulle uit Air Namibia se Airbus A319 na die teerblad laat sak is, sterk nog in hospitale in Windhoek aan.

Die agt passasiers en die twee grondhanteringspersoneellede wat van hierdie beweginggestremde en bejaarde passasiers in rolstoele moes stoot, het in 'n hoop op mekaar in die een hoek van die hyser te lande gekom. Die rolstoele het bo-op hulle geval.

Onder hulle was die 84-jarige adjunk- eerste minister van Uganda, mnr. Kirunda Kivejinja, en sy vrou. Hulle het na Namibië gereis om hul seun te besoek.

Die ongeluk het gebeur toe twee van die vier hidroliese pote van die toestel gebreek het. Die hysertoestel is op 'n vragmotor en word sowat 4 m hoog gehys tot teen die vliegtuig se deur om bejaardes of passasiers wat sukkel om te loop en nie soos ander passasiers die trap kan gebruik nie, tot op die grond te help.

Die agtjarige Matteo Wasserfall het onder die grootmense te lande gekom. Hy het saam met sy ma, Anél, wat ná 'n enkeloperasie nie kan loop nie, uit Kaapstad teruggekeer waar hulle sy ouma besoek het.

“Dit was donker en ons was verstrengel met mekaar en die rolstoele. Matteo het onder beland en hy kon nie by my uitkom nie. Die mense het gegil en gehuil,” het Wasserfall aan Republikein vertel.

Sy sê hoewel sy 'n sterk mens is en as opgeleide paramedikus al baie gru­tonele beleef het, het die voorval haar en haar seun getraumatiseer. “Matteo sê hy sien dit heeltyd in sy gedagtes. Hy was die hele dag (Saterdag) nie lekker nie,” vertel sy.

Me. Adel Campbell vertel haar pa, mnr. Christo de Plessis, was vir 'n operasie in Kaapstad en haar stiefma, me. Naomi du Plessis, en haar pa se broer, mnr. Deon du Plessis, het saam met hom gereis.

“My pa het tydens die val 'n breuk opgedoen. Dit is vasgestel nadat skanderings Saterdag by die Lady Pohamba private hospitaal gedoen is. Sy bloedsuiker is ook skielik baie hoog, terwyl hy nie 'n diabeet is nie.

“My oom se enkel is gebreek en daar moes Saterdag op hom geopereer word.”

Beide die Du Plessis-broers sterk nog in die hospitaal aan. 'n Bejaarde vrou wie se been vroeër geamputeer is, het ook erge beserings opgedoen. Sy word in die Rooms-Katolieke hospitaal behandel.”

Me. Du Plessis se voet is beseer, maar sy al uit die hospitaal ontslaan. Sy was die een wat die verskrikte Matteo onder die ander mense uitgehaal het.

Wasserfall vertel die toestel met die tien mense daarin was te swaar om op te hys.

“Hulle (nooddienswerkers) het mannekrag gebruik om ons daar uit te kry. Die dame wie se been geamputeer is, is op 'n draagbaar geplaas en toue is gebruik en haar na bo te hys.”

Dit blyk dit het sowat 'n halfuur geneem om die beseerdes uit die hysertoestel te haal.

Hulle is op die toneel behandel en het sowat drie ure ná die vliegtuig neergestryk het, eers by die Lady Pohamba-hospitaal aangekom.



ONDERSOEK

Mnr. Reinhard Gärtner, visevoorsitter van die Namibië Burgerlugvaartagentskap (NCAA) wat tans as uitvoerende hoof waarneem, het gister by navraag gesê dié owerheid wag vir die ondersoekverslae deur Air Namibia en die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC).

“Die NCAA sal daaruit kan bepaal of hy sy eie ondersoek moet doen.

“As die oorsaak 'n gebrek aan onderhoudswerk of nalatigheid was, sal ons beslis optree,” het hy gesê.

Mnr. Dan Kamati, woordvoerder van die NAC, het bevestig die voorval het plaasgevind kort nadat vlug SW708 om 21:00 uit Kaapstad neergestryk het.

Volgens Kamati verskaf die NAC nie grondhanteringsdienste by die lughawe nie en maak Air Namibia van sy eie toerusting en grondpersoneel gebruik.

Hy wou om daardie rede nie verdere kommentaar lewer nie.

Mnr. Paul Nakawa, bestuurder van korporatiewe kommunikasie by Air Namibia, het by navraag gesê die saak word ondersoek.

Hy sê “ideaal gesproke” moet die NAC op media­navrae reageer aangesien dit by 'n lughawe onder sy beheer plaasgevind het.

Hy kon nie sê hoeveel passasiers beseer is of hoeveel steeds in hospitale behandeling ontvang nie. “Ek was uitstedig die naweek. Ek sal eerste ding môreoggend (vanoggend) met die uitvoerende bestuur vergader en die passasiers in die hospitaal besoek.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer