Paspoort se aansoek u2019n droom
Paspoort se aansoek u2019n droom

Paspoort se aansoek ’n droom

Tanja Bause
Tanja Bause - My paspoort het verval en ek moes aansoek om ’n nuwe een by die ministerie van binnelandse sake en immigrasie in Windhoek doen.
Net die gedagte hieraan het my hande laat sweet en my knieë lam gemaak. Ek onthou die laaste keer. Die lokaal vol met honderde mense wat almal in lang rye teen ’n ­slakkepas beweeg. Mense om jou wat geen respek of benul van persoonlike ruimte het nie. Onvriendelike en onbevoegde beamptes. Humeure wat hoog loop – in kort ’n ervaring wat niemand wil deurmaak nie tensy dit absoluut noodsaaklik is.
Maar as ek Suid-Afrika toe wil gaan vir die vakansie, moet ek maar vasbyt en deurdruk. Ek kry al my papiere in orde en daar gaan ek.
Toe ek by die ministerie kom, staan daar sowat vyf mense buite die deure.
“Nie te sleg nie,” dink ek en gaan staan in die ry.
Tot my verbasing is dit een-twee-drie en ek is voor in die ry. ’n Vriendelike man in uniform vra om my papiere te sien, sodat hy kan kyk of alles in orde is.
My verbasing is groot, want dit maak sin! As jy eers binne en in daai rye is, kan dit ure vat voordat jy by die toonbank aankom sodat die amptenaar vir jou kan sê daar kort ’n dokument. Dus liewers by die deur hoor en tyd spaar.
My dokumente is in orde en die man gee my ’n papier met ’n nommer op.
“Hulle sal mevrou roep wanneer dit mevrou se beurt is. Gaan sit en wag so bietjie,” was sy woorde.
“Gaan sit” en ek dink ek het seker nou verkeerd gehoor, maar stap in. Ek het seker gelyk soos ’n springhaas in ’n kollig. In die lokaal was seker net so 30 mense en hulle het almal op stoele gesit.
Geen lang rye nie, geen bedompige lokaal nie, geen humeure nie ek het gevoel ek wil in ’n lied uitbars.
Sowat vyf minute later word my nommer opgeroep en ek word na die regte toonbank verwys. Die vriendelike beampte maak net weer seker al my dokumente is in orde voordat hy my na die volgende toonbank verwys.
Die vrou tik my identiteitsnommer in die rekenaar in en daar op die skerm verskyn ek en al my besonderhede.
“Alles is in orde,” sê sy en vat my geld. “Dit sal so in twee tot drie dae gereed wees,” sé sy met ’n glimlag en stuur my na die laaste toonbank om my paspoortfoto te laat neem.
Ook by die volgende toonbank was die beampte vriendelik, goed opgelei en baie behulpsaam. Die aansoekproses het my nie langer as 10 minute geneem nie. ’n Feit is dat dit vir my baie langer geneem het om ’n parkeerplek te vind. Die hele ervaring was so aangenaam dat ek nie kan wag om my paspoort oor ’n paar dae te gaan afhaal nie.
’n Ministerie wat werk, wat ver­skriklik doeltreffend is en waar ’n mens duidelik die verbetering nie net kan sien nie, maar ook kan voel is sowaar ’n baie skaars verskynsel in ons land.
Minister Pendukeni Iivula-Ithana, ek haal my hoed af vir u en u ministerie en hoop en wens dat ander ministeries by u sal kom aanklop oor raad oor hoe om ’n ministerie handomkeer te verander en te verbeter. Ek hoop dat wanneer ek my paspoort in vyf jaar moet hernu, u nog steeds die minister is, want dan weet ek, ek gaan ’n lekker en vinnige ervaring by binnelandse sake hê.

Kommentaar

Republikein 2025-06-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer