Pasop vir die swart, sosiale mediagat
Pasop vir die swart, sosiale mediagat

Pasop vir die swart, sosiale mediagat

Helene Bam
Nog nooit vantevore was dit makliker, kleurvoller of lekkerder om inligting te ontvang of met die wêreld te deel nie. Inligtingtegnologie en sosiale mediaplatforms laat mense toe om vriendskappe te smee met vreemdelinge wat aan die ander kant van die wêreld woon, besigheid te doen met mense in ander tydsones of in kontak te bly met vriende en geliefdes wat vêr woon. Talle romantiese verhoudings wat op sosiale media platforms begin is, het al voor die kansel gaan draai.
Sosiale mediaplatforms is wonderlik. Elke sekonde word oor die wêreld heen duisende stories, video’s en foto’s ge-“share” en ge-“like” op platforms soos Facebook, Twitter en Instagram. Internasionale nuusgebeurtenisse kan in 140 karakters op Twitter aangekondig word nog voor die redakteur van die dagblad sy of haar eerste koppie sawwelyf vir die dag gedrink het.
Met sowat 1,23 miljard aktiewe gebruikers elke maand, word beraam dat as Facebook ’n land was, sou dit die derde grootste bevolking in die wêreld gehad het. Elke dag sluit sowat ’n halfmiljoen nuwe verbruikers by die mense by dié sosiale netwerk aan. WhatsApp, meeste van ons se gunsteling groen ikoon op ons fone, het net-net minder as ’n miljard aktiewe verbruikers.
Daar word ook daagliks sowat 500 miljoen twiets die wêreld ingestuur. Dit is gelykstaande daaraan dat elke persoon in Namibië elke dag 218 twiets stuur.
Inligtingtegnologie en sosiale media ontwikkel teen die spoed van lig en terwyl sommige spartel en swoeg om by die nuutste tendense by te bly, floreer ander weer. Inligtingtegnologie en sosiale media het die wêreld as’t ware in ’n tydlose, grenslose speelpark verander en dit is ’n wonderlike avontuur!
Maar dié nuwe kuberruim-speelpark hou ook sy gevare in. Daar word gevrees dat alhoewel ons baie meer van ons doen en late op sosiale media met vriende én vreemdelinge deel, ons al hoe minder regtig deel is van mekaar se lewens. Nie net is sekere sielkundiges van mening dat menslike interaksie op sosiale media taamlik oppervlakkig is nie, maar dat dit ’n broeiplek vir narsisme is waarin ’n kultuur van “me, my selfie and I” geskep en bevorder word.
Jou selfbeeld hang van die aantal “likes” of “shares” af en jou vriendskappe word onderhewig aan of ander dink dit wat jy vir die wêreld op hierdie platforms ten toon stel, is snaaks genoeg, oulik genoeg of belangrik genoeg.
Moenie in die swart, sosiale mediagat val nie. Sosiale mediaplatforms hoef beslis nie ons menslike konneksies te verswak of ons empatie met ander te verminder nie. Dit kan juis ten gunste daarvan gebruik word. So tussendeur al die foto’s van jou hond, die bure se baba, “selfies”, video’s van katte wat sing en ’n nuwe resep vir bobotie, maak óók tyd om werklik met die mense aan die ander kant van jou rekenaar of foon se skerm kontak te maak en uit te vind hoe gaan dit regtig met Trixie se spene, selfs al moet dit op 'n skerm gebeur.

Kommentaar

Republikein 2026-05-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer