• Tuisblad
  • Landbou
  • Pasellas deur regering voed mentaliteit van bakhand staan
Pasellas deur regering voed mentaliteit van bakhand staan
Pasellas deur regering voed mentaliteit van bakhand staan

Pasellas deur regering voed mentaliteit van bakhand staan

Mini-tuine kan voedselnood help verlig
Kobus Laubscher
Dr. Kobus Laubscher – Die omvang van rege­ringshulp in die vorm van allerlei toelaes en die mate wat dit uitgebrei moes word om die vangnet ten opsigte van sosiaal-maatskaplike verligting so wyd as moontlik te maak, is verstommend.

'n Mens sou kon verwag dat meer mense meer paraat sou wees om die krisis te hanteer, veral in terme van huishoudelike voedselsekerheid. Wat ook ontbloot is, is die gebrek aan betroubare inligting oor die werklike stand van sake en hoe naby mense aan hongersnood is, selfs te midde van relatief voldoende kos vergeleke ander lande.

Dit is asof te veel eenvoudig hande in die lug gegooi het met 'n kreet dat die regering moet help. Wat van selfhelp, of is dit maar die ewige kwessie van gee 'n vis eerder as om die kuns van visvang vir mense aan te leer? Dié ideologie dui op politieke verknegtheid, want kom daar kos, geld die ou spreekwoord van “wie se brood mens eet, dié se woord mens spreek”.

Die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) wys tereg hoe die beginsel van oorlewing ten alle koste toegepas is in lande waar regerings eenvoudig nie kan help nie. Voorbeelde van sogenaamde vertikale en mikroboerderye in talle lande armer as dié aan die suidpunt van Afrika, lewer bewys van hoe daardie boere planne maak.

Koolsaad geplant tussen die stene van plaveisel, selfgemaakte kweekhuis van 'n vierkante meter en ver­skillende kortgroei-groentes in plantbakke gemaak van ou buitebande op die dakke van hoë geboue, is maar enkele voorbeelde.

In een spesifieke geval kon 'n pa van Aka Khel, 'n dorpie in die mees voedselonsekere dele van Pakistan, 'n eenvoudige kweekhuis oprig en aan die gang gekry. Hy produseer tamaties, okra, spanspek en ander gewasse in daardie klein ruimte. Die belangrike les is dat hy met behulp van baie eenvoudige tegnologie voedselsekerheid vir sy huishouding skep en ook sy gesin se dieet beter maak. Daar was keuses te midde van groot stygings in die pryse van stapelvoedsel as gevolg van die pandemie.



EENVOUDIG, DOG DOELTREFFEND

Die FAO is aktief betrokke by sogenaamde vertikale boerdery. Dit is 'n gewilde manier om ruimtebeperkings in veral Europese lande die hoof te bied, want produksiestelsels stapel op mekaar. Tamatieranke word hoër gelei en soos die plant dra, word die nie-draende stingel opgerol. Dié plante is sonder grond en al die nodige nutriënte word deur middel van water en hoëvlaktegnologie toegedien.

Dié praktyke is egter nie nou net meer beperk tot eerstewêreldlande nie. In ontwikkelde lande is produksie-omstandighede geskep wat die bekende Omkase aarbeie van Japan en die wêreldbekende basiliese kruid van Italië kan namaak.

Daktuine in Kaïro het aanvoelbare temperatuur met tot 7 grade Celsius verlaag. In Dakar het die FAO gehelp met die ontwikkeling van een vierkante meter kweekhuise wat oor alle inkomstevlakke so byval vind dat mense vir hulself daarmee kan sorg.

Voorbeelde uit die Keniaanse hoofstad waar sulke tuine met drupbesproeiing uit ou plastiese waterbottels gedoen word, het ook die belangstelling van die FAO gevang. Hulp word ook daar verleen.

Die vraag is nou waar laat dit lande soos Namibië en Suid-Afrika waar ruimte nie 'n probleem is nie?

Volgens die FAO is die afwesigheid van ondersteunende beleid 'n groot uitdaging. Dié beleid moet beter omstandighede skep om wel die intensiewe praktyke te kan toepas. Wat nodig is, is opleiding en die regte tegnologie soos die regte saad.

Logies-gesproke is kortgroei-plante die aangewese keuse en is daar vrae oor ondersteuning om gewasse soos byvoorbeeld kool en mielies in sulke klein ruimtes te plant. Landbouvoorligters het dalk op die verkeerde plekke gaan kers opsteek.

Daar is baie ruimte om hulpbehoewendes te help om groter huishoudelike voedselsekerheid te skep en om uiteindelik vir hulself te kan sorg.

Daarmee kan die bakhand-mentaliteit van die massas gestruktureerd verander word. Die voordele is voor die hand liggend.

Kommentaar

Republikein 2026-08-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer