Pas julle kinders op
Pas julle kinders op

Pas julle kinders op

[email protected]
Yolanda Nel
Yolanda Nel



"It takes a village to raise a child," het hulle altyd gesê. Dit is beslis waar, maar ek reken ons moet gaan introspeksie doen oor wie hierdie nasie is.

Moederskap is nog nuut vir my; met twee seuns wat net 14 maande verskil. Die afgelope 16 maande was 'n leerskool, en die ding wat ek die vinnigste geleer het, is hoewel dit 'n nasie vat, dra almal nie jou kind se beste belang op die hart nie.

Nie as kinders deesdae soos swiets gesteel en verkoop word nie. Nie as "baby safe food" met suiker gelaai is nie. Nie as familielede hulle selfs met tye leed aan doen nie, anders sou kindermoorde en - verkragtings nie gebeur het nie. Almal dra nie kinders se beste belange op die hart nie, anders het ons skool- en gesondheidstelsel beter gelyk.

Ek moet nou die dag noodgedwonge gaan geld trek, iets wat ek selde doen met al die ander beskikbare tegnologie.

Op pad na my motor word ek deur twee mans agtervolg. Op daardie oomblik voel ek nie my medemens gaan my kind (gelukkig was een van die twee by sy tannie) of vir my beskerm nie. Inteendeel, dit voel soos die teenoorgestelde en dat iemand ons juis eerder wil leed aandoen.

Ek het vir baba net in die motor gelaai en nie eers probeer om hom nog vas te maak nie; net om genoeg tyd te hê om in die motor te klim en die deure te sluit. Geen kar- of sekuriteitswag in sig nie.

Terwyl ek die motor aanskakel en my lyf nog van die skok bewe, besef ek dat vrouens altyd meer paraat as mans moet wees. As jy jou kind by jou het, soveel te meer.

Dan maak jy vir jouself 'n stel reëls as jy in die publiek uitgaan.

Kyk eers om jou rond voor jy jou motor afskakel om seker te maak niemand hou jou dop nie. Moenie jou telefoon antwoord as jy met jou kinders iewers is nie, want jou aandag is dan nie ten volle by jou kind nie. Koop jy 'n harnas dan word jy veroordeel omdat boetie aan 'n "leiband" vas is?

Is ons te bang? Moet ons chill en net sê wat gebeur sal gebeur, ongeag hoe paraat ons is? Ek sien te veel jong kinders wat in die gange van winkelsentrums loop met 'n selfoon in die hand, terwyl ouers meters verder is en glad nie gepla is nie.

Dalk is dit nuwe-mamma-sindroom-vrese. Dalk is hier 'n probleem wat aangespreek moet word. Maar gaan maak seker wie jou nasie is, en wees dankbaar vir elke ouma en oupa, tannie en oom, vriendin en vriend wat jou kind se beste belang op die hart dra.

Kommentaar

Republikein 2025-05-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer