Parlementstwis verstrengel verder
Parlementstwis verstrengel verder

Parlementstwis verstrengel verder

Swartbooi en Seibeb verwerp die voorregtekomitee se verhoor.
Augetto Graig
Augetto Graig – Die Landless People's ­Movement (LPM) se leiers mnre. Bernadus Swartbooi en Henny Seibeb het Vrydag wéér nie voor die parlementêre komitee op voorregte verskyn nie.

In 'n brief deur hul prokureur mnr. Patrick Kauta dring die twee aan die Speaker, prof. Peter Katjavivi, se poging om deur die voorregtekomitee Swartbooi en Seibeb se gedrag in die parlement te verhoor, is onwettig en buite sy gesag. Katjavivi moet vandag dié proses opskort, óf die kwessie word hoërhof toe geneem, dreig die brief.

Swartbooi en Seibeb is verbied om verrigtinge van die Nasionale Vergadering by te woon nadat Katjavivi 'n bevel hieroor gegee het in die nadraai van 'n ontwrigtende voorval ná president Hage Geingob se staatsrede op 15 April.

Katjavivi is ook voorsitter van die komitee waar die kwessie van dissiplinêre optrede teen die twee parlementslede Vrydag verder bespreek moes word.

“Op Maandag, 26 April, het die komitee op voorregte uit sy eie wil besluit om ondersoek na ons kliënte se gedrag in te stel, in terme van artikel 12(b) van die wet op magte, voorregte en immuniteite (17 van 1996) en reël 68(4)(e) van die vaste reëls en bevele van die Nasionale Vergadering,” skryf die prokureur.

“Op 3 Mei 2021 het ons die sekretaris van die Nasionale Vergadering gewaarsku dat hierdie besluit van die komitee op voorregte om ons kliënte te ondersoek, 'n nietigheid is omdat die vergadering nie reg saamgestel is,” volgens Kauta.

“U probeer te laat die onmoont­like regstel, deur om 18:17 op 20 Mei 2021 'n uitnodiging en konsepagenda te stuur na 'n ­vergadering wat reeds op 26 April ­plaasgevind het. Tweedens wil u 'n brief geskryf deur die ­sekretaris van die NV op 28 April, waarin sy ­kriminele vervolging instel, probeer regstel.

“Die perd het galop en jy kan nie die onmoontlike ná die tyd regmaak nie,” lees die brief.

Die NV-woordvoerder mnr. David Nahogandja het bevestig die komitee sou Vrydag vergader. “Wat moes gebeur het, is dat die komitee 'n ontmoeting met die twee parlementslede sou hê. Pleks daarvan ontvang die Nasionale Vergadering 'n brief van die twee se prokureurs. Gevolglik het die beplande vergadering nie soos verwag plaasgevind nie,” het hy gesê.

In reaksie op vrae aan Katjavivi, wat Saterdag sy 80ste verjaarsdag gevier het, het Nahongandja gesê die parlement bly steeds verbode terrein vir die twee LPM-lede en die NV is steeds in reses.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-01-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer