Pandemie looi ekonomie

Was dit nie vir buitensporige groei in die landbousektor nie, meen ontleders die ekonomie sou veel dieper in die rooi gewees het.
Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy – Die inperking en ­verwante ­Covid-19-maatreëls het in die tweede kwartaal sowat N$5,7 miljard minder deur die ­ekonomie laat vloei as tydens dieselfde drie maande verlede jaar.

Markprysdata wat gister deur die Namibië Statistiekagentskap (NSA) vrygestel is, toon die land se bruto binnelandse produk (BBP) van April tot Junie was ongeveer N$38,26 miljard. Dit is die laagste syfer vir 'n tweede kwartaal sedert 2016.

Gemeet aan die bestendige pryse van 2015 – wat onder meer inflasie in ag neem – was die BBP bykans N$32,03 miljard, sowat N$4 miljard kleiner as dié van die tweede kwartaal in 2019.

Dit is die swakste vertoning in enige kwartaal sedert die tweede kwartaal van 2013.

Die NSA se data wat op die bestendige pryse van 2015 geskoei is, strek tans net tot dié jaar terug.

Op 'n jaargrondslag en teen die bestendige pryse van 2015 het die ekonomie die afgelope kwartaal met -11,1% gegroei – die grootste inkrimping sedert 2014, volgens beskikbare NSA-syfers. Die naaste syfer hieraan is die -5,1% van die eerste kwartaal in 2019.

In die eerste drie maande van 2020 was groei -1,8%.

In die tweede kwartaal verlede jaar was dit -3,6%.



'Aanvanklike impak'

Cirrus Securities het gister in reaksie op die jongste amptelike syfers gesê die “relatiewe groot ­inkrimping” die afgelope kwartaal vang die aanvanklike impak vas wat die reaksiemaatreëls van die pandemie op die Namibiese ekonomie gehad het.

“Die inkrimping sou groter gewees het as dit nie vir die buitensporige hoë groei in landbou in die tweede kwartaal van 2020 was nie,” aldus die ontleders.

Volgens die NSA het landbou en bosbou die afgelope ­kwartaal met 47,2% gegroei vergeleke met -31,8% in dieselfde tydperk verlede jaar. Cirrus sê dié “abnormale sterk groei” was vanweë buitensporige groei in die akkerbousubsektor, wat volgens die NSA danksy die goeie reënseisoen ná verskeie droogtejare met 296,7% op 'n jaargrondslag gestyg het.

“Desondanks was sulke hoë groei vir die sektor vanjaar onverwags en verwring dit tot 'n geringe mate die algehele groeisyfer,” sê Cirrus.

Die inkrimpings in 14 van die 17 ­ekonomiese sektore dui duidelik dat min in die ekonomie deur die impak van die pandemie en die reaksiemaat­reëls daarop gespaar is, sê die ontleders.



Toerisme geslag

Luidens die NSA-syfers is hotelle en restaurante – 'n maatstaaf vir toe­risme – die afgelope kwartaal die swaarste getref. Dié sektor het met 64,2% ingekrimp vergeleke met ­positiewe groei van 12,3% 'n jaar gelede.

Teen die bestendige pryse van 2015, het hotelle en restaurante net N$264 miljoen tot die BBP in die tweede kwartaal bygedra, N$474 miljoen minder as in dieselfde drie maande in 2019. Teen markpryse het die sektor se BBP-bydrae met N$572 miljoen tot N$332 miljoen getuimel.

Vervaardiging, asook vervoer en berging het met meer as 30% ingekrimp. Teen 2015-pryse het vervaardiging se BBP-bydrae met bykans N$1,6 miljard tot amper N$3,6 miljard geval, terwyl vervoer en berging N$708 miljoen tot die ekonomie bygedra het – N$310 miljoen minder op 'n jaargrondslag.

Teen markpryse het vervaardiging se bydrae met sowat N$1,9 miljard tot ongeveer N$4,2 miljard ver­minder. Vervoer en berging s'n was N$765 miljoen, sowat N$510 miljoen kleiner.



Verbruiker voos

Groot- en kleinhandel het die afgelope kwartaal teen 2015-pryse met 22,5% ingekrimp. Dit het bykans N$2,8 miljard tot die BBP bygedra, sowat N$799 miljoen minder as in die tweede kwartaal van 2019.

Teen markpryse was die sektor se BBP-bydrae sowat N$3,95 miljard, 'n afname van N$920 miljoen jaar-op-jaar.

Belasting op produkte, of belasting op toegevoegde waarde (BTW), het met 25,8% ingekrimp ­vergeleke met die tweede kwartaal in 2019. Teen 2015-pryse, beteken dit N$707 miljoen minder. BTW se bydrae tot die BBP was bykans N$2,04 miljard.

Cirrus sê die aansienlike afname in BTW-invorderings dui nie net op die afname in verbruik deur huishoudings en besighede nie, “maar is ook 'n duidelike teken dat die regering se inkomste-invordering vanjaar swak gaan wees”.

Die tweede kwartaal van die kalenderjaar is die eerste kwartaal van die begrotingsjaar.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!