Pampoentjies tref All Blacks weer
Pampoentjies tref All Blacks weer

Pampoentjies tref All Blacks weer

Rugby
Die All Black-losvoorspeler Ardie Savea is by Nieu-Seeland se oefenbasis in Wallis weens pampoentjies in isolasie geplaas.

Rugby365.com berig Nieu-Seeland beleef tans 'n epidemie, met 'n rekordgetal gevalle van pampoentjies in Auckland.

Maar die All Black-hulpafrigter, Ian Foster, sê geen ander lid van die toergroep wys simptome van dié hoogs aansteeklike siekte nie. Die Kiwi's pak die Drake Saterdag in Cardiff.

“Ardie het 'n ligte ontsteking van pampoentjies,” sê Foster. Hy is die enigste een. Hy is in sy kamer en hy word in isolasie gehou.

“Hy is as kind ten volle ingeënt, maar hy het duidelik iets onder lede. Hy is vir 'n paar dae al in isolasie en herstel nogal vinnig.”

Volgens Foster glo die All Blacks se mediese span Savea het die siekte by die vleuel Rieko Ioane aangesteek, wat vroeër op die toer vir die virus behandel is.

“Ons is nie bekommerd dat dit sal versprei nie,” sê Foster.

“Ons tref alle voorsorg­maatreëls, maar Ardie moes in 'n stadium redelik naby aan Rieko gekom het.

“Dit het ons 'n bietjie onkant gevang, want dit is nie iets wat gereeld gebeur nie.

“Dit het ons uit die bloute gevang, maar ons is tevrede met hoe vinnig die dokter met Rieko gereageer het. Ardie was vatbaar, al het hy alles in die verlede reg gedoen. Dit is iets wat ons in 'n ernstige lig sien.”

• Foster sê die All Blacks se kaptein, Kieran Read, het nie Dinsdag geoefen nie, want die agtsteman is 'n ruskans gegun ná 'n paar taai toetswedstryde die laaste ruk.

“Hy het 'n paar harde houe weg die laaste klompie wedstryde en ons het hom aan vandag se oefening onttrek om hom 'n ekstra 24 uur te gee,” sê Foster.

“Hy lyk nie te sleg nie. Hy het 'n hoë werkverrigting en teen hierdie tyd van die jaar is hy maar net 'n bietjie seer.”

Nieu-Seeland spog met 'n indrukwekkende wenrekord van 29 agtereenvolgende seges teen Wallis en het in 1953 laas teen die Drake verloor.

 – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-08-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer