Padveiligheid een van TrenTyre se prioriteite
Padveiligheid een van TrenTyre se prioriteite

Padveiligheid een van TrenTyre se prioriteite

TRENTYRE, een van die grootste bandspesialiste in Namibië, gaan soos die vorige jaar vanjaar weer gedurende die vakansieseisoen betrokke raak by projekte om algemene padveiligheid in die land te bevorder.
Omdat voertuie en vragmotors se bande so ’n belangrike komponent van veiligheid vir padgebruikers is, gaan heelwat aandag daaraan geskenk word.
Die streekdirekteur van TrenTyre in Windhoek, mnr. Rolf Rohrmüller, sê hulle het weer met ’n spesiale veldtog begin om die publiek se aandag op die belangrikheid van bande te vestig. Samewerking met ander organisasies soos SOS wat daarop gemik is om algemene padveiligheid te bevorder, is ook aan die gang.
Tydens ’n onderhoud het mnr. Rohrmüller aan Motortydskrif gesê om hul erns te toon, doen hulle gratis inspeksiedienste van voertuie by al 17 hul takke landwyd. In die proses word ’n skriftelike verslag oor bandveiligheid aan voertuigeienaars uitreik.
“Enige lid van die publiek kan ons takke besoek waar opgeleide personeel ’n volledige veiligheidsinspeksie van die voertuig gaan uitvoer. Afgesien van die voertuig se bande wat ondersoek gaan word vir defekte, korrekte banddruk en slytasie, gaan ander komponente wat ’n veiligheidsrisiko mag inhou, ook ondersoek word,” het hy gesê.
Die items wat nagegaan sal word, is onder meer die handrem, die stand van skokbrekers, die balansering van bande, korrekte wielsporing, reënveërs en batterye.
Mnr. Rohrmüller het bevestig dat die toetse gratis deur TrenTyre gedoen word. “Ons is baie bewus van hoe belangrik padveiligheid is veral as dit kom by bande en verwante aangeleenthede.
“Vir die gerief van klante en ook die publiek, het ons besluit om die meer as 255 opgeleide personeel by ons 17 takke landwyd beskikbaar te stel om die gratis inspeksiediens uit te voer,” het hy gesê.
“Ons wil graag hê dat elkeen van TrenTyre se aanbod gebruik moet maak.
“Die veldtog wat ons met die program van stapel stuur, is daarop gemik om die publiek bewus te maak van die belangrikheid van padveiligheid. Elkeen wat aan die veldtog deelneem, staan boonop ook nog die kans om nuwe bande in ’n trekking te wen,” het hy bygevoeg.

Kommentaar

Republikein 2025-05-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer