Pad oop vir wetsontwerp
Pad oop vir wetsontwerp

Pad oop vir wetsontwerp

Volgens die minister van inligting en kommunikasietegnologie, dr. Peya Mushelenga, dien dié langverwagte dokument aanstaande week in die parlement.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die minister van inligting en kommunikasietegnologie, dr. Peya Mushelenga, sê hy sal komende Dinsdag die langverwagte Toegang tot Inligting-wetsontwerp in die Nasionale Vergadering ter tafel lê.

Tot dusver is allerweë aanvaar dié voorgenome wet sal tot groter verantwoordbaarheid lei, vernaam in die openbare sektor.

Hiernaas het Mushelenga gisteroggend by die Covid-19-kommunikasiesentrum (CCC) in Windhoek gesê dié ruimte sal 'n permanente instelling word waar die regering inligting met Namibiërs sal deel.

Die voorsitter van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en redakteur van die Duitse dagblad Allgemeine Zeitung, mnr. Frank Steffen, het gister by navraag gesê dié liggaam sal tydens 'n vergadering volgende week eers dié verwikkelinge onder die loep neem.

Hy sê egter hy het sy voorbehoude oor die wetsontwerp omdat die bygewerkte dokument – sou dit wel bygewerk wees – nie aan alle rolspelers vir hul insette voorgelê is nie.

Volgens Steffen is hy bekommerd dat die wetsontwerp deur die parlement gehaas sal word sonder dat die media daarop kommentaar gelewer het.



VORIGE INSETTE

Sou vorige insette van onder meer die EFN wel in berekening gebring gewees het, behoort Namibiërs die wet te verwelkom, meen hy.

“Dit sal nie net druk op die regering verhoog nie, maar op alle openbare en private instellings om 'n regverdige wedstryd te speel – hetsy wat sakepraktyke betref of eenvoudige administratiewe reëlings: inligting waartoe die publiek toegang behoort te verkry.”

Oor die toekomsplanne rondom die CCC, sê Steffen hy is “geen aanhanger van 'n gesentraliseerde vloei van inligting nie, omdat dít vinnig die enigste toegang tot inligting word”.

Hy meen regeringsamptenare kan inligting weerhou totdat hulle óf die tyd het, óf bereid en gereed is om van aangesig tot aangesig met die media in gesprek te tree. “Dit kan nooit goed wees nie, omdat dit onmiddellik die media se rol as 'morele polisie' en gepaardgaande verantwoordelikheid wegneem.”

Steffen is ook bekommerd dat nét die vrae wat die regering belangrik ag op so 'n platform ter sprake sal kom. “Na my mening is álle vrae belangrik.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer