Pacquiao weer lus nu00e1 lang blaaskans
Pacquiao weer lus nu00e1 lang blaaskans

Pacquiao weer lus ná lang blaaskans

Boks
Manny Pacquiao (42) sê die blaaskans van byna twee jaar wat hy geneem het, het nuwe lewe in sy boksloopbaan geblaas.

Pacquiao boks op 21 Augustus in Las Vegas teen Errol Spence (31) en dié twee vegters het mekaar Sondag vir ’n mediakonferensie in Los Angeles ontmoet.

“Ek was vir twee jaar buite aksie. Maar ek boks al van ek 12 jaar oud is. So die blaaskans was goed vir my. Toe ek weer begin oefen het, was my fokus en toewyding 100%,” sê Pacquiao.

“As jy so oud soos ek is, het jou liggaam tyd nodig om te herstel.

Pacquiao was in Julie 2019 laas in aksie toe hy Keith Thurman verslaan het.

Dié bokslegende sal weer vir eers sy werk as senator in die Filippyne opsy skuif om Spence aan te durf.

Spence is die Wêreldboksraad en die Internasionale Boksfederasie se weltergewigkampioen.

“Ek dink beslis nie sy ouderdom gaan teen hom tel nie. Hy is gedissiplineerd en kyk goed na homself,” sê Spence oor Pacquiao.

• Twee ander boksers het die afgelope dae goeie oorwinnings behaal.

Vrydag in Los Angeles het Joseph Diaz ’n oortuigende punte-oorwinning oor Javier Fortuna behaal.

Met dié oorwinning het Diaz, ’n voormalige veergewig en super-veergewigkampioen, gewys dat hy ook voortaan as liggewig sy stem kan dikmaak.

Die liggewigafdeling spog reeds met uitstekende boksers soos Gervonta Davis, Teofimo Lopez, Vasily Lomachenko en Ryan Garcia.

In nog ’n geveg Vrydag in Los Angeles in dieselfde toernooi, het die Mexikaanse ligswaargewig Gilberto Ramirez sy onoorwonne rekord behou toe hy Sullivan Barrera van Kuba in die vierde ronde uitgeslaan het.

Ramirez spog nou met 28 uitklophoue in 42 gevegte.

– ESPN, Boxing News 24, Boxing Scene

FOTO
Manny Pacquiao en Errol Spence pak mekaar op 21 Augustus in Las Vegas. Foto Getty Images

Kommentaar

Republikein 2025-05-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer