Paaltjies bly gunsteling
Paaltjies bly gunsteling

Paaltjies bly gunsteling

DIE Paaltjies is suid van Walvisbaai die gewildste hengelplek onder ontspanningshengelaars. Die voorkeur aan die Paaltjies kan deels toegeskryf word aan die feit dat dit maklik in gewone voertuie sonder vierwielaandrywing bereik kan word.

Dit is ook die beginpunt van die roetes noordwaarts na Pelikaan-Punt en suidwaarts na Sandvishawe. Uitstekende vangste word wel daar behaal wanneer kabeljoue in hul suidwaartse tog na die broeigebiede van Sandvishawe is.

Dikwels gaan daar niks by die Paaltjies aan nie, omdat die water op die plek soms te skoon is. Normaalweg word steenbrasvangste by die Paaltjies behaal, maar soms is daar ook galjoen teenoor die parkeergebied.

Op die roete na Sandvishawe is die tweede paal ’n baie goeie hengelplek met kabeljou- en steenbrasvangste wat daar behaal word. By die derde paal en naby die grens van die NamibNaukluftpark word kabeljou en steenbras ook dikwels aangetref.

Op pad na Sandvishawe in die eerste deel van die seegebied na die Lang Duin en die wrak loop die kabeljoue en steenbrasse ook. Op die gebied van hengel gaan daar nie veel tussen die Lang Duin en die Ronde Duin aan nie.

Die volgende gewilde hengelplek is die modderbanke sowat 4 km noord van Sandvishawe. Dis waar die galjoen soms loop, maar waar steenbras ook aangetref word. Kolsterte dra soms ook by tot die pret wanneer hulle sommer in groot skole daar wei.

Kabeljoue word wel daar gevang, maar dit is die uitsondering. Sandvishawe se baai is die plek wat die haaivangers lok. Dis waar groot bronshaaie van tot meer as 100 kg gereeld gevang word.

Kommentaar

Republikein 2025-07-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer