Pa skuldig aan moord op seuntjie
Twee jaar ná 'n gruvoorval veral die Omahekestreek geruk het, wag 'n lang tronkvonnis waarskynlik op 'n inwoner van Gobabis.
Denver Kisting
Twee jaar nadat Dawid Amseb sy drie maande oue seuntjie vermoor het, is hy aan moord skuldig bevind.
Regter Nate Ndauendapo het verlede week ook vir Amseb aan aanranding skuldig bevind. Hy het aanvanklik op 'n klag van poging tot moord tereggestaan.
Luidens die klagstaat het die gruvoorval op 30 Maart 2017 op Gobabis plaasgevind.
Amseb het aan die begin van sy verhoor in Oktober verlede jaar in die Windhoekse hoërhof onskuldig op albei klagte gepleit.
Volgens hom het sy seuntjie, Dube Morao, per ongeluk op die grond geval en sy koppie beseer, terwyl hy hom in sy arms gehou het. Hy het aangevoer hy het geen bedoeling gehad om die kind te vermoor nie.
Eweneens het Amseb ontken hy het die kind se ma, me. Asina Morao, om die lewe probeer bring deur haar te wurg.
Volgens me. Morao se getuienis het sy op die oggend van die tragedie omstreeks 07:00 langs die baba op 'n matras gaan lê, omdat sy nie lekker gevoel het nie.
Amseb het in daardie stadium volgens haar buite die huis gesit, maar later die vertrek, waarin sy en die baba was, binnegekom.
Sy het getuig hoewel Amseb aanvanklik stil was, kon sy op sy gesig sien hy was kwaad.
Volgens haar het hy toe gesê sy sou daardie dag veroorsaak dat die polisie hom toesluit.
Dít het volgens haar gekom nadat sy hom gevra het om die huilende baba se koppie toe te maak om die kind teen die koue te beskerm.
Morao het gesê Amseb het haar toe aan die keel beetgekry met die doel om haar te verwurg. Sy het gesukkel om asem te kry, het sy aan die hof gesê.
In 'n stadium het sy daarin geslaag om sy hande weg te druk waarná hy haar weggestoot het.
Volgens haar het hy toe die baba gegryp en hom teen die vloer neergegooi.
Terwyl die baba op die vloer gelê het, wou Amseb die baba glo skop. Sy het hom betyds gekeer en by hom gepleit om dit nie te doen nie.
Morao het toe 'n buurvrou, me. Francisca Ngautjiti, geroep om te kom help.
Dié vrou het getuig sy het tussenbeide probeer tree en die baba opgetel.
Die kind se koppie was geswel en hy was in pyn, het sy aan die hof gesê.
'n Ander buurvrou, me. Magdalena Jacobs, het getuig toe sy Amseb buite die huis, waar hy onder 'n boom gestaan het, oor die voorval gekonfronteer het, het hy gesê: “Dit is my kind. Dis ek wat hom seergemaak het.”
Die nadoodse ondersoek het getoon die baba is weens kopbeserings oorlede – waarskynlik toe sy koppie die vloer getref het.
'n Patoloog het getuig die kanse was “feitlik nul” dat die baba die besering sou kon oorleef. Dié dokter het getuig die beserings kon nie veroorsaak gewees het as die kind per ongeluk uit iemand se arms geval het nie.
Die polisiebeampte, wat vir Amseb in hegtenis geneem het, het getuig die man het op die toneel toegegee “ek wou die kind doodmaak”.
Volgens Amseb se weergawe het hy en Morao daardie oggend stry gekry oor die beëindiging van hul verhouding.
Hy het voorts beweer hy het sy besittings begin pak. Morao het glo gesê sy gaan die baba nie op sy van registreer nie, omdat dit nie sy kind was nie. Volgens hom het sy gesê haar eksminnaar is die kind se pa. Dit het glo sy hart gebreek, het Amseb getuig.
Ná verdere rusie het hy die kind glo probeer optel, maar sy het hom verhinder, waartydens die kind op die vloer geval het.
Regter Ndaudendapo het bevind die staat het Amseb se weergawe bo redelike twyfel weerlê.
Daar was egter nie genoeg getuienis dat Amseb sy minnares ook wou vermoor nie. Daarom het die regter hom onskuldig bevind op die klag van poging tot moord, maar wel skuldig aan aanranding.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie