Outjo se Spar-familie brei uit

‘n Familie-onderneming bied ‘n verskeidenheid keuses aan die dorp se inwoners en diegene wat winskopies soek.
Augetto Graig
Augetto Graig – Ná baie maande kom bouwerk by die Spar-kompleks op Outjo nou tot ’n einde en wag inwoners in spanning vir ’n aankondiging oor ’n openingsdatum.

Die 3 800m²-gebou sal nie net ’n vertoonoppervlak van 1 300 m² in die splinternuwe hoofwinkel hê nie, maar ook spog met ’n 500m²-bakkery en ander winkels waaronder Pep Home, ’n salon en ’n haarkapper.

Volgens die eienaar, me. Ronelle Raes, bied Spar, en die Tops- drankwinkel, ongeveer 90 werkgeleenthede. Die meeste poste kan deur inwoners van die dorp gevul word. Die Chicka Chicken, deli, ’n slagtery, asook die vrugte- en groenteafdelings moet ook beman word.

“Die tyd raak nou vir ons druk,” sê Raes. “Ons het baie mense wat nog vir onderhoude wag,” het sy vroeg in September aan Noorderlig gesê.

“Ons probeer so ver moontlik mense uit Outjo aanstel,” sê sy.

Ronelle en haar man, Johan, is al wie oor is van ’n oorspronklike groep van vyf vennote wat aan die begin van 2016 met die ontwikkeling op die dorp begin het.

Die gesin sou eers plaas toe getrek het ná 13 jaar op Oshakati nadat Johan se konstruksiebedryf deur die huidige ekonomiese toestande “doodgedruk” is. Hulle is eintlik bees- en wildboere en “ek het eiendom”, sê Ronelle. Hiervan moes sy noodgedwonge verkoop en die gesin moes verhuis.

“Maar my ervaring van Outjo is tot nou goed. As mens het ek gegroei vandat ons hier aangekom het en Outjo het van my ’n beter mens gemaak. Die liefde van die mense waarmee ek te doen het . . . dis omgeemense,” sê sy.

Sy sê voorts daar is baie mense by die projek betrokke, “’Never-mind’ die gebou. Spar self betrek die gemeenskap. As hulle van Spar praat, is dit om werksgeleenthede te skep. Die doelwit is om te groei. Daar is ‘e-learning’ by Spar beskikbaar en ons wil opleiding bied. Die werknemers moet soos ’n gesin vir die kliënte wees,” sê sy.

“Een ding van Spar is dat familie belangrik is. Ek is self van plan om my seuns by die besigheid te betrek as hulle wil,” sê sy. “Ek het drie kinders waarvan die oudste nou 15 is, en die jongste is ’n jaar en drie maande. Net seuns. Die middelste een is ses. My familie kom altyd eerste.”

Vir die Raes-gesin, wat in September verlede jaar na Outjo getrek het, is die projek ’n geleentheid om ontwikkeling, werksgeleenthede en keuses na die dorp te bring.

Deel van die ontwikkeling is die installasie van 300 kW-sonkragpanele op die dak. ‘n Diensverskaffer van Otjiwarongo rig die sowat 1 100 panele op.

Kommentaar

Republikein 2025-09-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer