Outjo se panga-moordenaar kry lewenslank
Outjo se panga-moordenaar kry lewenslank

Outjo se panga-moordenaar kry lewenslank

’n Man met ’n geskiedenis van gewelddadige optrede teenoor sy meisie is lewenslange tronkstraf vir haar moord opgelê.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die man van Outjo, wat erken het hy het sy meisie in 2015 vermoor deur haar verskeie kere met ’n panga op haar kop en nek te kap, is Dinsdag in die hoërhof in Windhoek tot 26 jaar tronkstraf gevonnis.

Die 32-jarige Levi Haneb het met die aanvang van sy verhoor voor regter Alfred Siboleka skuld op ’n klag van moord beken, asook op klagte van aanranding en dat hy haar aangerand het deur te dreig om haar lewe te neem.

Die moordklag spruit uit die noodlottige voorval op 3 April 2015 toe hy homself saam met me. Ingenesia Ais (28) in haar huis toegesluit het en haar met ’n panga aangerand het. Hulle was sedert 2013 in ’n verhouding.

Ais het agt wonde aan haar kop, nek en hand opgedoen en is op pad hospitaal toe dood.

’n Klag van aanranding is teen Haneb ingedien toe hy Ais die maand vantevore ook aangerand het. In 2014 is ’n klag van aanranding teen hom gelê toe hy gedreig het om haar met ’n assegaai dood te maak.

“Die erns van die misdaad oorheers sy skuldbekenning, asook die feit dat hy ’n eerste oortreder is,” het Siboleka tydens vonnisoplegging gesê.

Hy het daarop gewys dat Ais se familie die huis se deur oopgebreek het en Haneb op heter daad betrap het toe hy besig was om haar te vermoor.

“Verder is dié gruwelike misdaad in huishoudelike verband gepleeg.”

Hy het ook daarop gewys Haneb het volgens getuienis nie berou teenoor die oorledene se familie getoon nie, of hulle vergoed vir die feit dat hy Ais se lewe geneem het nie.

Siboleka het hom gevolglik tot lewenslange tronkstraf op die moordklag gevonnis en tot ses maande op elk van die aanrandingsklagte.

Binne die Namibiese reg kan ’n gevangene wat lewenslange tronkstraf uitdien ná 25 jaar vir parool in aanmerking kom.

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer