Outjo rou oor Neil Prinsloo
Outjo rou oor Neil Prinsloo

Outjo rou oor Neil Prinsloo

Die Afrikaanse skolegemeenskap is gister die derde keer in twee maande deur die dood van ’n skoolhoof geruk.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – “Hier hang ’n verslaentheid oor Outjo. Ons dorp is platgeslaan.” Só het ’n ouer van die Privaatskool Moria gister die hartseer en skok oor die dood van die skoolhoof, mnr. Neil Prinsloo (45), verwoord.

Prinsloo is om 03:00 gisteroggend in ’n private hospitaal in Windhoek aan Covid-19 dood. Hy is die derde skoolhoof van ’n Napso-skool (Namibiese Privaatskole-organisasie) wat die afgelope twee maande aan dié virussiekte dood is.

Die ander twee is mnr. Henry McCarthy van Pro-Ed Akademie op Swakopmund en mnr. Bakkie Grobbelaar van Tsumeb Gimnasium.

Me. Magdel Pretorius, een van die ouers en ‘n vriendin van die Prinsloos, het gister gesê sy kan nie ophou huil nie. “Hy was so ’n kragtige instrument van God; ‘n mens verstaan hierdie goed glad nie.

“Neil het op alle vlakke van die gemeenskap met mense bande gesmee en verhoudings gebou. Almal het geweet Neil is rotsvas; hy het nooit geskroom om op te staan vir dit was reg en waar is nie. Maar ek het hom nooit beleef as iemand wat veroordelend is nie.

“Hy was ongelooflik passievol en het eindelose energie gehad. Hy sal net verskriklik gemis word. Neil laat ‘n groot leemte,” was Pretorius se woorde.

Lizette Carsten, hoof van die junior primêre fase wat saam met hom op die skool se bestuur gedien het, sê hy was “streng, regverdig en het met die Woord naby aan sy hart geleef.

“Hy was altyd ‘n positiewe mens en het groot drome vir Moria gehad en het geglo in dít wat Moria nog kan word,” sê sy.

Prinsloo was ‘n predikant in die Gereformeerde kerk voor hy hom by die onderwys aangesluit. Sy eerste gemeente was op Bloemhof en Christiana in die Noordwes-Provinsie, waarna hy leraar geword het van die Otjiwarongo/Outjo/Biermanskool-gemeente.

Hy het hom in Mei 2017 as bedryfshoof by Morio aangesluit. Hy was ook in daardie stadium hoof uitvoerende beampte van Napso.

Prinsloo is vanjaar as skoolhoof aangestel. “Hy het net in die eerste vyf maande van die jaar so baie gedoen om sy drome vir die skool uit te leef en het nooit moed opgegee nie,” vertel Carsten. Sy sê die skool het altyd nog akademies goed presteer en in die jongste tyd het dit ook op kultuur- en sportgebied goed gegaan.

Moria het 188 leerlinge en is die oudste Afrikaanse privaatskool in die land.

Me. Chrisna Engelbrecht, ook ’n onderwyseres, sê hy het hard gewerk en voluit en met passie geleef. Verder was hy trots op sy vrou en kinders. “Hy was baie trots op sy gesin. En hy het die Here liefgehad.”

Prinsloo laat sy vrou Aletta (44) en hul vier kinders, David (19), Isabel (17), Jan (14) en Linda (11), agter.

Geen begrafnisreëlings is nog bekend nie.
[email protected]


FOTO
Mnr. Neil Prinsloo (45) en sy vrou, Aletta (44). Foto Facebook

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer