Ouma Hennie op en wakker op 100
Tanja Bause - Me. Hendrika Johanna Nel het op 22 Februarie vanjaar haar 100ste verjaarsdag op die plaas Soutpan in Aroab gevier.
Ouma Hennie, soos die meeste mense haar ken, is as ’n nooi Blaauw op die plaas Warmbakkies, ongeveer 30 km uit Keetmanshoop, gebore.
Sy was die oudste van Koot en Kleintjie Blaauw se nege kinders.
Haar ouers het na die plaas Nuu-Nuu getrek toe Ouma Hennie drie jaar oud was.
Sy het skoolgegaan op Gaudabis waarheen sy elke oggend 3,5 km moes stap.
Smiddae moes sy weer al die pad terug huis toe stap.
Dié plaasskooltjie is in 1933 tydens die groot droogte gesluit.
Die boer het agter water en weiding aangetrek en die afstand het te ver vir die kinders geword.
Ouma Hennie het nie haar skoolloopbaan voltooi nie, maar het kennis van die natuur en die wêreld opgedoen deur boeke en tydskrifte te verslind.
Haar helderste herinnering van die afgelope 100 jaar is van die tyd toe sy en haar gesin in 1933 weens die droogte in die Auob-rivier moes gaan bly.
“Ons was drie gesinne wat daar in die rivier gewoon het. Elke tweede dag moes die meer as 1 000 skape water kry. As die windpomp nie gedraai het nie, moes ons dit self draai sodat dit water kon pomp. Dit was ongelooflik stresvol gewees - ek was maar net 15 jaar oud,” het sy gesê.
Sy het ene Louis Nel ontmoet toe hy besoek aan haar pa se plaas per donkiekar afgelê het.
“Ons het met die hand gegroet en gesels en hy is weg. Later moes ek hoor dat hy vir ’n vriend gesê het: ‘Vandag het ek my toekomstige vrou se hand vasgehou’,” het sy aan me. Regine von Teichman gesê.
In 1936 het Ouma Hennie en Louis op die plaas Morgenson naby Keetmanshoop in die huwelik getree. Uit dié huwelik is twee dogters, Willa en Alta, gebore.
“Die grootste oomblik van my lewe was toe ek my eerste baba, Willa, in my arms gehou het.”
Volgens Ouma Hennie was haar man ’n swerwer en het hulle baie van plaas tot plaas getrek.
“Op ’n dag het ek vir hom gesê om sy broek uit te trek sodat ek die rooimiere wat hom so pla, kan doodmaak. Ek was moeg getrek en wou nie meer nie,” het sy laggend vertel.
Ouma Hennie het baie in Namibië, veral in die Suide, en deur Suid-Afrika gereis, maar sy was nog nooit buite die grense van dié twee lande nie.
Die egpaar het 28 jaar lank op De Aar in Suid-Afrika gewoon.
“Die laaste 10 jaar was die ergste in my lewe, want ek moes beide my dogters aan die dood afstaan,” het sy gesê.
“Ek sou graag saam met my man wou sterf. Die eensaamheid word nou vir my te erg, veral nadat ook my dogter, saam met wie ek in die ouetehuis gebly het, verlede jaar oorlede is.”
Haar man is in 1999 oorlede, maar sy het vyf kleinkinders, agt agterkleinkinders en vyf agter-agterkleinkinders.
“Ek is dankbaar vir die Here se seëninge en die voorreg om in Namibië saam met familie my 100ste verjaarsdag te kan vier.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie