Oudburgemeester beroof

Graig bekommerd oor misdaad
Tanja Bause
Tanja Bause – ’n Oudburgemeester van Windhoek, me. Vivienne Graig, haar man mnr. Ian McLaren en hul jongste dogter is op twee agtereenvolgende Vrydae beroof.

Die tweede keer het rowers by hul huis op die hoek van Schanzenweg en Kenneth David Kaundastraat ingebreek en die familie gedreig.

“Ek kan nie beskryf hoe dit voel as jy agter ’n veiligheidshek in jou gang staan en jou man en kind smeek die boewe om alles te vat wat hulle wil hê en om ons gesin uit te los, en hulle hou net aan om die hek af te breek nie,” het Graig gesê.

Die eerste keer het die rowers op Vrydag 30 Oktober ingebreek.

“Vrydagoggend sou mense ons matte kom was en ek en my dogter het solank van die meubels op ons balkonne uitgedra om die werk die volgende dag makliker te maak. My dogter het gevra of die goed veilig is en ek het haar gerusgestel en ons het gaan slaap. Boewe het dié nag omstreeks 04:00 dié items van die balkon af gesteel. Hulle het ’n gat onderdeur ons palissadeheining gegrawe.”

Graig en haar man het onmiddellik iemand gekry om die gat en palissadeheining met lemmetjiesdraad te beveilig. Dit het die rowers egter nie afgeskrik nie en hulle het Vrydag omstreeks 03:30 teruggekeer.

“Ons het wakker geword van harde kap geluide. Die mans het nie saggies probeer inbreek nie; hulle was vreesloos. Die rowers het vir die tweede keer deur dieselfde gat toegang tot die erf verkry. Hulle het onmiddellik begin om die agterste deur oop te breek. Ons het in die gang ’n ekstra veiligheidshek. Terwyl my man en dogter sê hulle kan vat wat hulle wil, was hulle besig om daardie hek ook af te breek. Ons het om ons lewens gevrees en besluit om onsself op die hoofslaapkamer se balkon toe te sluit. Die balkon het ook ’n veiligheidshek en ons het gehoop ons kan tyd wen.”

Die gesin het op die balkon gestaan en om hulp geroep en die polisie en buurtwag in kennis gestel.

“Van ons bure het nie eens hulle ligte aangesit nie. Is dit die tyd waarin ons leef dat niemand meer omgee as iemand om hulp roep nie?”

“Gelukkig het die buurman agter ons ons gehoor en ’n veiligheidsmaatskappy in kennis gestel. Ons het die stadspolisie se noodnommer gebel en die polisiebeampte wou hê ek moet die straatnaam spel. Hoe op aarde moet ek ’n straatnaam spel terwyl ons lewens bedreig word?”

Voordat die man die veiligheidsdeur kon afbreek het die polisie en verskeie veiligheidsmaatskappye opgedaag en die mans het op die vlug geslaan.

Volgens die Namibiese polisie se misdaad verslag het die polisie verskeie skote afgevuur en is ’n 34- en ’n 44-jarige man in hegtenis geneem. Nog ’n verdagte het met ’n skootrekenaar op vlug geslaan.

Van die items wat gesteel is, is ook teruggevind omdat dit te groot was om deur die gat te kom.

Die gesin woon al die afgelope 36 jaar in dieselfde huis en is in Julie 2011 ook in hul huis aangeval. Graig is met ’n pyp oor die kop geslaan en moes 32 steke kry, terwyl haar man met ’n mes in die arm gesteek is.

“Die regering sê elke dag hoe dankbaar ons moet wees dat ons in ’n land woon waar daar geen oorlog is nie en hoe veilig ons land is – maar dit is absolute twak. Ek is onveiliger in my eie huis met miljoene dollars se veiligheidstoerusting as wat ek in ’n oorlog sou wees. Ten minste sou ek weet wat om te verwag en hoe om op te tree. As ons in ’n oorlog was, sou ons half verwag het dat iemand in die huis inkom en ons sou gereed wees. Ons sou geweet het hoe om dit te hanteer. Dieselfde geld vir die kamma veilige land waarin ons woon. Hier staan ek en my familie aan die een kant van ’n veiligheidshek en sterk mans aan die anderkant en hulle breek die hek af en jy weet hulle kom vir jou.”

Graig het haar kommer uitgespreek oor die misdaad in die land wat aan die toeneem is.

“Ons is pensioenarisse en het nie baie nie, net soos die mense wat in Katutura in sinkhuise woon en so word ons almal beroof deur mense wat net wil vat. As hulle gevang word, word daar gesê dit is ou bekendes, so wat doen hulle op straat? Dit is ’n landswye probleem wat aangespreek moet word en tog hoor jy geen politieke kandidaat – veral nou voor die verkiesings – oor veiligheid en misdaad praat nie.”

Sy het haar dank uitgespreek teenoor die wagte van die veiligheidsdienste en sommige polisiebeamptes wat Vrydag op die toneel was.

“Baie van hulle was baie empaties en dit is presies wat jy in daardie traumatiese oomblik benodig.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer