Oud-Witbanker droom soos Lappies oor Japan
Oud-Witbanker droom soos Lappies oor Japan

Oud-Witbanker droom soos Lappies oor Japan

Rugby
Marnus Kok – Hoewel sy tong nog knoop om die Japanse taal baas te raak, hoop die voormalige Suid-Afrikaanse Skolespeler Jano Venter om in die toekoms die Brave Blossoms op die rugbyveld te verteenwoordig.
Dié boorling en losvoorspeler van eMalahleni (tevore bekend as Witbank) het ná ’n lang gewik en geweeg besluit om in 2019 sy tassies te pak en in Japan te gaan speel.
Nou droom hy daarvan om in die voetspore van Lappies Labuschagne, wat sy aangenome land selfs by geleentheid tydens 2019 se Wêreldbeker-toernooi aangevoer het, te volg en vir Japan rugby te speel.
Venter het tevore vir die Goue Leeus en die Blou Bulle uitgedraf, voordat hy uiteindelik besluit het om op die vliegtuig te klim.
“Dit het my omtrent twee jaar geneem om te besluit. Ek het die opsie gehad, maar ek het toe eers besluit om na die Bulle (van die Leeus) te gaan,” sê Venter.
“Dit is nog ’n ruk voordat ek die opsie sal hê om soos Lappies vir Japan te speel. Dit neem vyf jaar om te kwalifiseer en ek gaan dit beslis doen. Ek is nou eers 26 en glo daar is nog baie jare van rugby wat vir my voorlê as die Here my spaar.
“As ek teen daardie tyd goed genoeg is om vir Japan te speel, sien ek nie ’n rede hoekom ek dit nie kan doen nie. My mikpunt vir die volgende paar jare is om te kwalifiseer.”
Venter speel vir die Shimizu Blue Sharks, ’n span in die Japanse tweede liga, maar vertel dat die klub groot planne het om in die Topliga mee te ding.
Bekende spelers soos die oud-Bul Johnny Kotze, Garth April, Luke McAlister, wat tevore vir die All Blacks gespeel het, en die oud-Wallaby Pekahou Cowan is van sy spanmaats.
“Dit gaan goed in Japan, ek geniet dit baie en glo dat ek maklik aangepas het. Die taal is wel vir my baie moeilik en hulle praat nie regtig Engels nie. Ek woon klasse by, maar dit gaan maar stadig.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer