Oud- SA polisielid erken verkragtings
Oud- SA polisielid erken verkragtings

Oud- SA polisielid erken verkragtings

NAMPA
Martinus Pretorius, ’n voormalige Suid-Afrikaanse polisiebeampte, wat op aanklagte van die verkragting van minderjarige meisies in 2012 op Swakopmund teregstaan, het Woensdag skuld op dié klagte erken.

Die 48-jarige Pretorius het skuld op vyf klagte van verkragting aan die begin van sy verhoor voor adjunk-regter-president Hosea Angula erken.

Pretorius het in ’n verklaring, wat deur sy staatsprokureur, mnr. Zagrys Grobler, aan die hof voorgelê is, bevestig hy was by onwettige seksuele dade met drie minderjarige meisies betrokke.

Hy het gesê hy was bewus daarvan dat die meisies minderjarig was en hy het twee keer seksuele omgang met een van hulle gehad.

Hy is daarna op die vyf klagte van verkragting van minderjarige meisies skuldig bevind.

Hy het egter op vyf klagte van mensehandel onskuldig gepleit.

Adv. Felistas Shikerete-Vendura het namens die staat gesê sy sal op dié klagte verskeie getuies roep.

Die saak is tot 12 November uitgestel om die staat genoeg tyd te gun om met getuies te raadpleeg.

Bykomende klagte teen Pretorius, wat insluit aanranding deur dreigemente, algemene aanranding en die kwaadwillige beskadiging van eiendom is op versoek van die staat onttrek.

Volgens die klagstaat het Pretorius in 2012 drie minderjarige meisies tussen 13 en 14 jaar oud verkrag, waarvan een twee keer verkrag is.

In September dieselfde jaar het hy glo na sy geboorteland, Suid-Afrika, gevlug.

Pretorius is in April 2016 in Suid-Afrika in hegtenis geneem en in Desember 2017 aan Namibië uitgelewer.

Hy was ten tyde van die misdade in diens van die Rössing-uraanmyn.

Sy medepligtige, Johanna Lukas, wat daarvan beskuldig is dat sy minderjarige meisies by vier geleenthede tussen April en Mei 2012 aan Pretorius verskaf het, is op aanklagte van mensehandel en verkragting tot 13 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Pretorius bly in aanhouding in die Windhoek Sentrale Gevangenis tot die verhoor op 12 November voortgaan.

– Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer