Ou geld, nuwe geld u2013 maar Stellenbosch-ryk
Ou geld, nuwe geld u2013 maar Stellenbosch-ryk

Ou geld, nuwe geld – maar Stellenbosch-ryk

Lloyd Zandberg
‘The Stellenbosch Mafia’ is ’n deeglik nagevorste lekkerleesboek waarin die joernalis Pieter du Toit reg laat geskied aan die geskakeerdheid van die hedendaagse Stellenbosse welvaarts- fenomeen, skryf Jan-Jan Joubert.

Wat het gemaak dat ’n geslag Afrikaner-sakebreine met Stellenbosse wortels gedurende die val van apartheid, en veral in die jare daarna, so ’n sukses van hul ondernemings gemaak het – en so fabelagtig ryk en toonaangewend geword het – dat dit vir baie Suid-Afrikaners byna onbehoorlik voel en dié sakelui hieroor geteiken word?

Is daar inderdaad iets onbetaamliks aan soveel welvaart uit so ’n relatief klein dorp? Steek daar waarheid in die aanklag van soveel (veral) swart Suid-Afrikaners – en by name die EFF – dat daar ’n Stellenbosse mafia bestaan?

Dit is die vrae wat die joernalis Pieter du Toit takel in hierdie deeglik nagevorste lekkerleesboek, wat, ondanks ’n swakheid hier en daar, reg laat geskied aan die geskakeerdheid van die hedendaagse Stellenbosse wel­vaarts­fenomeen.

Op die voorblad pryk die gesigte van drie van ons land se voorste sakelui: Johann Rupert, Christo Wiese en Jannie Mouton. Die vierde gesig is dié van die berugte Markus Jooste wat algemeen verkwalik word vir die Steinhoff-debakel – iets wat hy tans hand en mond ontken teenoor enigeen wat na hom wil luister en hom wil glo.

’n Mens moet erkenning gee aan die omvang van sowel die primêre as sekondêre bronnavorsing wat die skrywer binne ’n bevatlik kort omvang besonder leesbaar saamgevat het. Uitgewers tob immers al jare oor die idee vir hierdie boek, wat talle mense om verskillende redes nie wou aanpak nie.

Hy skets die enigsins sosialistiese ontstaan van wat toentertyd volkskapita­lisme genoem is, asook die rol van Stellenbosch as bykans mitiese ruimte vir die verskillende Afrikanerideale van uiteenlopende leiersfigure, ideologieë en tydsgeeste, met die nodige sensitiwiteit, deurdagtheid, historisiteit en deernis.

Die redes vir die onwilligheid was gewoonlik ’n kommer dat hagiografiese skryfwerk verwag kon word (spesifiek die potensiële vergoeiliking van welvaart en diegene wat daarby baat vind), ’n gevoel dat dit onbetaamlik sou wees om soveel welvaart uit te lig terwyl ons geliefde land gebuk gaan onder soveel ongelykheid en mensonterende armoede, en laastens ’n persoonlike irritasie by talle van die onwilliges met die beweerde ingeteelde, afgesonderde selfgenoegsaamheid daar tussen die kobaltblou Bolandse berge.

Du Toit was kennelik bewus van hierdie slaggate, wat hy in die algemeen noukeurig vermy, hoewel daar twee steurende uitsonderings is wat ter wille van balans uitgelig moet word: die verdraaiing van die rol en ideaal van die Braai vir Erfenis-inisiatief, en dat sommige van die sappigste skinderstories in die boek anoniem aangebied word en dan ook sonder dat die persoon oor wie die skinderstorie handel, geïdentifiseer word. Dit het die waarskynlik onbedoelde gevolg dat die gebeure veralgemeen word tot presies die tipe beweerde algemene (eerder as uniek individuele) Stellenbosse gedrag wat vir buitestanders die idee gee van ’n magtige, manlike, wit Afrikanermafia op Stellenbosch.

’n Mens het die vrymoedigheid om te beweer hierdie indruk is onbedoeld omdat die boek die bewerings van ’n mafia of ’n onbehoorlike klandestiene groep telkens uit die monde van die veronderstelde mafiosi maar ook in die gevolgtrekkings van die skrywer weerspreek.

Wat eerder voorgehou word, is ’n groep mense wat soms saamwerk en soms meeding en wat op ’n spesifieke dorp woon omdat dit ’n pragtige plek met puik skole en ’n nastrewenswaardige universiteit is, ’n plek waar die lewensgehalte en lewensvreugde hoog is.

Die boek delf ook dieper, en gegewe die huidige en moontlik toekomstige trajek van die nasionale diskoers is dit sekerlik Du Toit se belangrikste bydrae: Hy skets die enigsins sosialistiese ontstaan van wat toentertyd volkskapita­lisme genoem is, asook die rol van Stellenbosch as bykans mitiese ruimte vir die verskillende Afrikanerideale van uiteenlopende leiersfigure, ideologieë en tydsgeeste, met die nodige sensitiwiteit, deurdagtheid, historisiteit en deernis. As sy interpretasie inslag vind, sal dit Afrikaans en Afrikaanssprekers tot heil wees.

Die gemak waarmee Du Toit sy stof hanteer, getuig van ’n massa navorsing op die gebied van die geskiedenis, ekonomie en die huidige tydsgees. Dit kon nie met die navorsing vir hierdie boek begin het nie, maar weerspieël ’n leeftyd se leeswerk en nuuskierigheid.

Dit is belangrik vir lesers wat vertroud is en hulle vereenselwig met “die idee waarvoor Stellenbosch staan” (ek gebruik hierdie uitdrukking buite die oorspronklike konteks aangesien dit soos baie Bolandse produkte oor die jare veredel is) om te besef dat die boek blykbaar in ’n groot mate as poort tot kennis en begrip hieroor kan dien, spesifiek vir diegene wat nie uit eie ervaring vertroud is met hierdie “Stellenbosse idee” nie en dit graag van naderby wil beskou.

Daarom is die knap inkleding van die tersaaklike geskiedenis so noodsaaklik.

Vir my is die hoogtepunt van The Stellenbosch Mafia die wyse waarop Du Toit die verskil tussen ou geld en nuwe geld, en die nasporing van hoe nuwe geld ou geld kan word, skilder. Iets van die spanning tussen Bolandse adel en parvenu, tussen rustige welvaartgemaklikheid en die frenetiese gedrag van krummeltjie wat brood geword het, en iets van die afkeer van eersgenoemde in laasgenoemde word in hierdie boek vasgevat.

The Stellenbosch Mafia verdien al die verkoopsukses wat dit tans behaal. Dit is ’n bondige verduideliking van ’n geskakeerde, interessante, belangrike en lotsbestemmende aspek van ons samelewing wat, spesifieke tekortkominge ten spyt, op ’n lekker manier ’n positiewe bydrae tot die begrip van ons land in sy kontrasterende uiteenlopendheid lewer.

Jan-Jan Joubert is ’n politieke joernalis en skrywer. Sy nuwe boek, Gaan Suid-Afrika oukei wees? 17 sleutelvrae verskyn in November by Tafelberg. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer