Otjiwa volgende bestemming vir veldryers
Otjiwa volgende bestemming vir veldryers

Otjiwa volgende bestemming vir veldryers

Andrew Poolman
Die Otjiwa Eagle Ride bergfiets­uitdaging word môre gehou as een van die bepalende byeenkomste vir aanspraakmakers op die Hollard-bergfietsreeks.
Registrasie word vandag tussen 16:30 en 19:00 by Otjiwa Lodge, 35 km suid van Otjiwarongo gedoen. Inskrywings het reeds vandeesweek gesluit vir die byeenkoms wat ook vir die Namibiese Fietsryfederasie se nasionale ranglys in ag geneem word.
Die volle marathon-afstand is 84 km of die halfmarathon van 42 km.
Die 320 inskrywings vir die naweek maak hierdie die grootste marathon-bergfietsbyeenkoms in die land buite Windhoek, sê die organiseerder, mnr. Johan Pretorius.
Onder die bekende inskrywings tel manne soos Xavier Papo (voorloper in die reeks), Herbert Peters, Costa Seibeb en Ingram Cuff. By die vroue sal die oë waarskynlik op Michelle Vorster en Irene Steyn wees.
“In hierdie byeenkoms, net soos by die onlangs X-Ride, word dieselfde bedrae prysgeld vir ’n eerste plek in elke ouderdomsklas uitbetaal.
“Die jonger en ouer deelnemers werk immers ewe hard as die elite ryers wat dieselfde afstand aflê. Ons moedig die organiseerders van ander byeenkomste aan om ook hierdie rigting met die toekenning van pryse in te slaan,” sê Pretorius.
Die wegspringtyd van 09:00 sal ook ryers pas wat vroegoggend uit Windhoek wil ry, eerder as om die vorige aand oor te slaap.
Borge wat komende naweek betrokke is, sluit in Hollard Namibia, Kia Motors, Wispeco, Otjiwa Lodge, E-Med24, Food Lovers Market en Squirt Lube.
• Bergfietsryers kan ook steeds vir die vierde jaarlikse Hollard/Africa Safari Lodge bergfietsfees op 11 Junie naby Mariental inskryf, wat iets vir die hele gesin bied.
Met meer as 20 wildspesies in die omgewing, is die fokus gewis nie op fietsry as “harde werk” nie.
Van renosters en swartwitpense tot kameelperde en njalas kan dalk van naderby op die roete aangetref word indien jy gelukkig is.
Standard Bank en Energade is bydraende borge tot die byeenkoms.
Inskrywings kan by www.mtbfestivalnamibia.com gedoen word.
Die Hollard-reeks se kategoriewenners kan met tot N$5 000 vir ’n eerste plek, N$3 500 vir ’n tweede plek of N$2 000 vir derde wegstap.
Die huidige voorlopers ná twee uit vier byeenkomste in die Hollard-reeks is:
Elite mans: 1. Xavier Papo, 2. Norbert Meyer, 3. Johannes Hamunyela.
Meesters mans: 1. Gerhard Mans sr., 2. Johann Liebenberg, 3. Herklaas Viljoen
Rhino-klas (mans 90 kg en swaarder): 1. Braam Vermeulen, 2. Titus Koen, 3. André de Klerk.
Subveteraan mans: 1. Ingram Cuff, 2. Wim Steenkamp, 3. Clayton Viljoen.
Veteraan mans: 1. Ian Grassow, 2. Hans du Toit, 3. Tobias Gerber.
Ope vroue: 1. Michelle Doman, 2. Anneke Steenkamp, 3. Maike Bochert.

Kommentaar

Republikein 2025-05-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer