Osona-aanleg begin krag voorsien
Osona-aanleg begin krag voorsien

Osona-aanleg begin krag voorsien

Gerine Hoff
Sedert einde Augustus vanjaar voorsien die Osona-sonkragaanleg wes van Okahandja via NamPower krag aan die nasionale netwerk.

Die aanleg bestaan uit meer as 20 000 sonpanele wat vyf MW opwek deur middel van meer as 120 omsetters wat gelykstroom in wisselstroom omskep.

Die aanleg is deur InnoSun in samewerking met Namibia Engineer­ing Corporation (NEC) en Alensy opgerig.

Volgens mnr. Jan-Barend Scheepers, InnoSun Energy Holdings se projekbestuurder, is die aanleg ontwerp om min instandhoudingswerk te vereis. Sou ''n voorval plaasvind, kan die deel wat daardeur geraak word, eenvoudig vervang of herstel word sonder om kragtoevoer aan die nasionale netwerk te onderbreek.

Die ten volle gerekenariseerde sonpanele volg die son van sonsopkoms tot sonsondergang om optimale energieproduksie te verseker.

“Sou die windspoed hoër raak as wat ons as gevaarlik beskou, draai al die panele binne minute in ''n veilige posisie, naamlik horisontaal, om windweerstand te verminder, en sal die wind geen skade aan die stelsel aanrig nie,” verduidelik Scheepers.

NEC en Alensy is verantwoordelik vir die instandhouding van die aanleg, wat tydens oprigting werk aan sowat 70 Namibiërs voorsien het.

Intussen kan Namibië se eerste windkragaanleg wat op Lüderitz geleë is, reeds vroeg volgende jaar in bedryf wees.

“Vroeg in 2017 sal Namibië met sy eerste ''skoon'' energie kan spog wat in die netwerk gelaai word en ons is baie opgewonde daaroor,” sê Scheepers wat ook by daardie projek betrokke is.

Drie reusewindturbines wat 80 m hoog is, ''n lemspanwydte van 43 m het en ''n draairadius van bykans 100 m, sal tussen 5 en 7 kilometer oos van die hawedorp opgerig word.

Scheepers sê navorsers het van die beste windtoestande vir energieproduksie daar gemeet.

Die projek wat ''n vennootskap tussen InnoSun en die Lüderitz-dorpsraad is, sal vyf megawatt (MW) krag aan die dorp deur die NamPower-netwerk voorsien. 

– Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-08-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer