Orkaan Katrina: Van huislys tot swartlys

Die verhaal van ’n minister met ’n spreekwoordelike uithang-onderrok . . .

12 July 2019 | Howe
Denver Kisting – Toe Katrina Hanse op Sondag 22 Januarie 1967 op die dorpie Hoachanas haar eerste lewenslig aanskou, het niemand waarskynlik geweet watter diep spore dié baba sou trap nie.

Toe sou dit eweneens nie moontlik gewees het om te voorspel dat sy as Katrina Hanse-Himarwa nagenoeg 52 jaar later in wit getooi op ’n Maandag aan korrupsie skuldig bevind sou word nie.

Dit is presies wat op 8 Julie 2019 in Hof B in die Windhoek-hoërhof gebeur het.

Regter Christie Liebenberg het bevind die minister van onderwys, kuns en kultuur, op haar dag ’n vername skooljuffrou, het in Desember 2014 aan ’n lys laat peuter.

’n Skrale 24 uur later was sy die voormálige minister van onderwys, kuns en kultuur.

Op 16 Desember sowat vier en ’n halwe jaar gelede was sy die goewerneur van die Hardapstreek.

Sy het dié pos sedert 2004 beklee.

Op daardie dag het sy twee name van ’n lys van begunstigdes laat verwyder en met dié van twee ander vervang. En dit is hoe sy opnuut in die pekel beland het.

Geen vreemdeling van omstredenheid

Hanse-Himarwa het veral as goewerneur van Hardap dikwels koerantvoorblaaie gehaal.

In Desember 2007, byvoorbeeld, het Republikein berig oor ’n ondersoek wat gelas is nadat sy haar glo op ’n bruilof aan wangedrag skuldig gemaak het.

Terselfdertyd het allerlei beweringe van korrupsie die hele streek volgelê, veral wat die streekraad betref. Haar naam het kort-kort opgeduik.

Tydens die tragiese Mariental-vloed van 2006 het sy die media gekasty en dié koerant van allerlei hiervan en daarvan beskuldig.

Volgens haar sou beriggewing oor die vloed deurspek gewees het van verdraaiings van die waarheid.

‘Blatante leuen’

Afgelope Maandag het regter Liebenberg bevind sy het geensins die hoërhof in haar volle vertroue geneem nie.

Trouens, sy het ’n blatante leuen aan die hof opgedis, het Liebenberg ’n bom laat afgaan in sy uitspraak van meer as twee ure.

Die vloedstorm van begin 2006 het kwalik bedaar voor Hanse-Himarwa opnuut in troebel water beland het. Sy is enkele maande later betrek by ’n beweerde heksejag by die streekkantoor. Weer het sy voortvarend op koerantvoorblaaie geboer.

Só is die weg na ’n skuldigbevinding gebaan

Verlede jaar het die nuus rugbaar geword die aanklaer-generaal het beslis sy moet antwoord op ’n klag van korrupsie ná ’n ondersoek deur die Teenkorrupsiekommissie (ACC).

Sy is nie in hegtenis geneem nie en het tot dusver geen oomblik agter tralies deurgebring nie.

’n Dagvaarding is uitgereik waarin sy beveel is om in die Mariental-landdroshof te verskyn.

Met haar eerste verskyning het sy gehoor sy moet haar vervolgens by die hoërhof in die hoofstad aanmeld vir haar verhoor.

Geen tekort aan ondersteuning

Dat Hanse-Himarwa gewild is, is geen geheim nie. Naas haar man, mnr. Ghenno Himarwa, het die openbare galery dikwels uit sy nate gebars van ondersteuners.

Een persoon wat dikwels aan haar sy was, is die voorsitter van die Nasionale Raad (NR), me. Margaret Mensah-Williams.

Sy het verlede jaar ná die eerste verskyning by navraag wal gegooi oor haar teenwoordigheid by die hof.

Mensah-Williams het gesê sy was daardie week op ’n amptelike besoek aan Mariental. Toe haar ma ongesteld word en in die hospitaal opgeneem is, het sy verlof geneem en was gevolglik steeds op Mariental en het vir Hanse-Himarwa gaan ondersteun.

“Ons is almal van Mariental. Ons het albei hier grootgeword,” het sy gesê. Buitendien het die hofverrigtinge van Hanse-Himarwa wat sy bygewoon het “net vyf minute geduur”, het sy benadruk.

Hoewel Hanse-Himarwa nie die sosiale venyn ontsnap nie tree baie steeds vir haar in die bresse. Dat sy steeds as Mariental se liefling beskou word, is duidelik. Haar ondersteuners beroep hulle dikwels op die Skrif: Dié wat sonder sonde is, moet die eerste klip gooi, sê hulle.

Ander weer: Sy het nóg gemoor nóg miljoene gebuit.

Skinderbekke bygekom

’n Maand voor haar skuldigbevinding het sy in ’n verklaring uitgevaar teen ’n beweerde herrie oor haar in die sosiale media.

Volgens haar is sosiale media “waarskynlik die merkwaardigste vordering in moderne kommunikasietegnologie”.

Mits dié ruimtes verantwoordelik aangewend word, kan dit ’n rewolusie teweeg bring wat kommunikasie en interaksie betref, het sy gemeen.

“Die teendeel is egter ook waar. Sosiale media, sou dit onverantwoordelik aangewend word, kan skadeliker wees as al die gewone mediastelsels sáám – ’n goedkoop hulpmiddel vir vernietiging!” het sy uitgevaar in ’n WhatsApp-verklaring. Dit is kommerwekkend, het sy gesê, dat Namibië dié neiging nie gespaar is nie.

Hanse-Himarwa het voortgeborduur sy is die laaste ruk veral bekommerd oor ’n vlaag sosialemediaplasings wat hul opwagting maak as nuusberigte, meningstukke en flitskaarte en waarin daar ’n groot gewag gemaak word oor haar hofsaak.

Die politikus het gesê omdat sy ’n openbare figuur is, het sy begrip daarvoor dat daar mense sal wees wat propagandapogings teen haar sal waag.

Eweneens, sê sy, kan sy dink daar is ondersteuners wat gunstige propaganda oor haar die lig laat sien.

Volgens haar is dit moeilik om hierdie plasings te keer, veral omdat dit ’n uitdaging is om vas te stel wie daarvoor verantwoordelik is. “Maar ek moet die goedgesinde en vyandige skrywers waarsku dat my saak voor ’n bevoegde hof gedien het.”

Na haar mening was dit uiters kinderagtig en voortydig om ’n toe hangende hofsaak te bespreek “omdat sodanige besprekings druk op die voorsittende beampte mag uitoefen”.

Hanse-Himarwa het streng ’n beroep op vriend én vyand gedoen om die onafhanklikheid van die regbank te eerbiedig en die gereg toe te laat om sy loop te neem.

Sy sê sy is terselfdertyd bekommerd oor mense wat volgens haar met opset onmin en verdeling binne Swapo saai.

Volgens haar teiken dié mense veral die hegte verhouding tussen stigterspres. Sam Nujoma, sy opvolger, oudpres. Hifikepunye Pohamba, en pres. Hage Geingob.

Die ergste van alles is dié mense gebruik haar naam om die wig tussen die leiers in te dryf, sê sy. “Dit is gemeen en onaanvaarbaar.”

Die voorreg was haar beskore om van ’n jong ouderdom af met al drie dié leiers te werk. Hul wysheid en kennis het haar wêreld, veral haar ontwikkeling as ’n leier, beduidend verruim, sê sy. “Die ongegronde en lasterlike aantygings teen hulle uit alle oorde is weersinwekkend en is om van naar te word. Ek sal dit waardeer as my naam nie gekoppel word aan enige van daardie onsmaaklike en gemene pogings nie,” sê sy.

Hanse-Himarwa het toe gesê sy is nóg desperaat nóg angstig en wag kalm op die uitsluitsel van haar hofsaak. Sy het onlangs, toe Republikein haar om kommentaar genader het oor inligting dat die vervolgingsgesag glo twee nuwe sake van korrupsie teen haar oorweeg, gesê: “Nét twee? Vra hulle asseblief namens my om dit honderd te maak.”



Katrina vra askies

“Ek vra hom en die Namibiese mense om verskoning omdat ek weet hierdie skuldigbevinding is ’n bron van teleurstelling en ontsteltenis vir baie wat my ken.” – Katrina Hanse-Himarwa, voormalige minister

Te midde van groot openbare druk het Katrina Hanse-Himarwa Dinsdag die tuig as minister van onderwys, kuns en kultuur neergelê.

Kort nadat die nuus oor haar bedanking rugbaar geword het, het pres. Hage Geingob haar by monde van sy woordvoerder, dr. Alfredo Hengari, bedank vir dié stap.

Sou sy dit nie gedoen het nie, sou hy geen ander keuse gehad het as om haar af te dank nie, sê Geingob. Dit weens sy verbintenis tot deursigtigheid en om korrupsie hok te slaan, lui sy verklaring.



Haar geloof blý in God en sy vertrou in sy ewigdurende liefde en dat Hy haar deur dié tye van beproewing sal dra, het sy gesê.

Sy het die media in ’n twee bladsy lange brief verwittig sy ontruim onmiddellik haar kabinetspos.

Die veroordeelde vuurvreter het gesê sy wil haar voortaan toespits op introspeksie en om weer te fokus.

Ver van finish en klaar

Alle aanduidinge is dat Hanse-Himarwa teen haar skuldigbevinding appèl sal aanteken.

Tussen 24 en 26 Julie moet die staat en verdeding betoë lewer oor onderskeidelik ’n swaarder en ligter straf voor regter Liebenberg besluit wat gepas sal wees.

Pres. Geingob het, toe hy amb. Martin Andjaba as waarnemende onderwysminister aangestel het, gesê die pos word nie nou permanent gevul nie.

Enersyds omdat daar nog net sewe maande van Hanse-Himarwa se termyn oor was, andersyds laat die Grondwet haar toe om te appelleer.

Of dit die politieke einde van dié vuurvreter is, sal net die tyd leer.

Soortgelyk

 

Laat koppe rol - Jooste, SPYL

8 ure gelede | Politiek

Catherine Sasman - Stemme uit die regerende party dring toenemend aan dat diegene wat beskuldig word van korrupsie onder sy geledere verwyder word.Nadat die beleërde...

Gertze skiet glo vrou

8 ure gelede | Misdaad

Henriette Lamprecht – Die uitvoerende hoof van die Namibiese Kwalifikasieowerheid (NQA) het die naweek agter tralies deurgebring nadat hy na bewering sy vrou Saterdag in...

Namibiërs betoog oor korrupsie

8 ure gelede | Plaaslik

Tanja Bause - Meer as 200 mense van alle rasse en ouderdomme het Vrydag deelgeneem aan ’n teenkorrupsie-optog in Windhoek wat deur aktiviste gereël is....

VERKIESINGS 2019: PRESIDENSIËLE KANDIDATE

8 ure gelede | Politiek

McHenry VenaaniPopular Democratic Movement (PDM)McHenry Venaani is die leier van die amptelike opposisie en het in 2014 as mees suksesvolle opposisiekandidat 44 271 stemme (sowat...

Weer vir 18 November

8 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm met 'n paar donderbuie oor die verre Noordooste, andersins gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm. Winderige...

Buitelandse mediese studente: Eksamen nietig verklaar

8 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die jongste pre-internskapevaluering van 297 studente wat medies in die buiteland studeer het, is nietig verklaar. Die evaluering is op 27 September...

Passasiers gestrand ná Frankfurt-botsing

8 ure gelede | Vervoer

Ronelle Rademeyer - Dit is in hierdie stadium nie bekend wanneer Air Namibia se vlugte tussen Frankfurt in Duitsland en Windhoek sal hervat nie.Dit volg...

Die kwaliteit van verkiesings

8 ure gelede | Politiek

Christie Keulder – Gereëlde vry en regverdige verkiesings is die rugraat van enige demokrasie.Die kwaliteit van verkiesings is daarom onontbeerlik vir die konsolidering van nuwe...

VERKIESINGS 2019: Regeringstrukture en die staatsdiens

8 ure gelede | Politiek

Die reeks neem politieke partye se manifeste oor sleutelkwessies in oënskou.ALL PEOPLE’S PARTY (APP)• Sny die uitspattige salarisse van openbare ondernemings (SOE’s) se direksie, uitvoerende...