Orion Minerals nou op die JSE
Orion Minerals nou op die JSE

Orion Minerals nou op die JSE

Niel Joubert - Orion Minerals, ’n Australiese mynmaatskappy met aktiewe eksplorasie- en ontwikkelingsbedrywighede in Suid-Afrika, het gister op die JSE genoteer.

Dit is die dertiende maatskappy wat in 2017 reeds op die JSE genoteer het.

Orion minerals het op die goudmynsektor van die hoofbord van die JSE genoteer.

Prejelin Naggan, hoof van primêre markte van die JSE, sê die beurs is bevoorreg om ’n nuwe buitelandse maatskappy tot die mark te verwelkom.

“Die notering is ’n bewys dat die land steeds internasionale maatskappye lok, en die notering sal die verskeidenheid van mynbates vergroot waaraan beleggers blootstelling kan kry op die JSE.”

Orion Minerals is ’n eksplorasiemaatskappy wat fokus op sink, koper, nikkel, goud en platinumgroepmetale in Suid-Afrika en Australië. Die maatskappy het ’n primêre notering in Australië.

Errol Smart, uitvoerende hoof van Orion Minerals, sê die notering is ’n “betekenisvolle” dag vir die maatskappy.

“Ons is baie trots op deel te word van die invloedryke JSE-familie. Ons beskou die JSE-notering as ’n bykomende mark vir Orion Minerals vir die doeltreffende finansiering van ons Suid-Afrikaanse projekte, en om ons profiel in die land te verhoog,” sê Smart.

Die maatskappy se belangrikste projek is die Prieska sink- en koperprojek in die Noord-Kaap, wat voorheen bedrywig was tussen 1971 en 1991, sê hy.

Die goudmynsektor op die JSE het ’n totale markkapitalisasie van sowat R160 miljard. Dit is sowat 1% van die algehele markwaarde van die JSE. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-06-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer