Opwarming vir WB nog afgewag

Rugby
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Die Namibië Rugby-unie is steeds aan die onderhandel om sterk opposisie vir opwarmwedstryde vas te knoop vir die spelersgroep in die finale opbou na die Wêreldbekertoernooi.

Die NRU het die afgelope naweek sy voorlopige oefengroep van 50 spelers bekend gemaak.

Sedert hul terugkeer van die afgelope toer na Uruguay het die nasionale groep twee weke blaaskans gekry en dit is nog nie presies bekend wanneer die aangewese oefengroep in Windhoek moet aanmeld nie.

“Sodra die finale toergroep van 31 spelers aangewys is, moet hulle definitief 'n minimum van drie opwarmwedstryde speel, of vier sal nog beter wees,” het die president van die NRU, mnr. Corrie Mensah, aan die koerant gesê.

“Ons kyk onder meer na Suid-Afrikaanse unies wat dalk nie in die Curriebeker se semifinale betrokke sal wees nie. Die bestuur van SA Rugby is ook behulpsaam met die proses om die wedstryde gereël te kry, maar ons het nog nie finale terugvoering gekry nie.”

In 'n vroeër stadium was dit glo bykans 'n uitgemaakte saak dat Roemenië 'n geskiedkundige eerste toer na Namibië sou aanpak, maar die toer het deur die mat geval toe Roemenië nie bereid was om die gepaardgaande koste te aanvaar nie.

Net soos Namibië is Roemenië se rugbyspan ook 'n gereelde WB-kwalifiseerder, wat egter die 2019-toernooi sal moet misloop nadat van sy ligapunte tydens die kwalifiserende veldtog in Europa vanweë die gebruik van onkiesbare spelers afgetrek is.

Julie of Augustusmaand en selfs die eerste week in September, voordat die Namibiese groep van 31 spelers op 12 September na Japan vertrek, is die periode waarin die NRU na opwarmwedstryde op soek is.

“Dit is moontlik dat Wêreldrugby ons ook met voorgestelde wedstryde kan nader,” sê Mensah.



KONTRAKTE

Juniemaand was die enigste tydperk vir die ganse seisoen waarin die nasionale spelersgroep hoegenaamd enige kontrakte gehad en betaling ontvang het. Dit het vir die nasionale toer na Uruguay, asook vir enkele wedstryde in die SuperSport-uitdaagreeks gegeld.

Die eerste deel van die seisoen was dus maar 'n rowwe tydperk vir die spelers, wat onbetaald geoefen en gespeel het vandat die vorige kontrakte aan die einde van November 2018 verstryk het.

Dit is bekend dat die nasionale groep wat byvoorbeeld 'n voorseisoense toernooi in die Kaap teen die o.20-spanne van Suid-Afrika, Georgië en Argentinië gespeel het, nie eens 'n sent sakgeld ontvang het nie.

Nuwe spelerskontrakte vir die aanloop tot die Wêreldbeker word tans nog opgestel.

“Die bepalings en voorwaardes moet nog uitgeklaar word, want ons moet uiteraard weet hoeveel geld ons beskikbaar het. Die meeste daarvan behoort van die regering te kom en ons het nog nie finale antwoord gekry hoeveel hul bystand vir Namibië se opbou en deelname aan die Wêreldbeker gaan beloop nie.

“Ons kan dus nog nie sê watter spelers kontrakte kry of watter bedrae ter sprake is nie. Die eerste betaling sal veronderstel wees om aan die einde van Julie plaas te vind.”

Namibië se voortdurende status as 'n amateurrugbyland hou hom steeds op die agtervoet in die aanloop tot die 2019 Wêreldbekertoernooi in Japan, wat sy sesde opeenvolgende verskyning by die spogbyeenkoms sal wees.

Namibië is in groep B geplaas en speel teen Italië (22 September), Suid-Afrika (28 September), Nieu-Seeland (6 Oktober) en Kanada (13 Oktober).

Die waarheid is dat groter geldelike bystand vir elke individuele speler tyd kan uitkoop om hul spel tot op 'n hoër vlak te ontwikkel, maar 'n groot gros van die Namibiërs beoefen ook ander beroepe en speel nie voltyds rugby nie.

Sterker finansies is uiteraard ook 'n faktor om die broodnodige diepte in die spelersgroep te vergroot wat nodig sal wees om die wêreldreuse skrik te maak.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer