Optrede teen man wat voor renperde inloop
Perdesport
Die man wat Saterdag in die middel van ’n perdewedren voor aanstormende perde op die resiesbaan gestap het, word deur ’n lewenslange skorsing in die gesig gestaar.
Toeskouers het verstom toegekyk toe die man by die Wellington Cup-byeenkoms in Nieu-Seeland oor drie heinings spring en hande in die lug op die resiesbaan stap. Jokkies moes woes uitswaai om te keer dat hul perde hom nie onderstebo hardloop nie.
Die man is in hegtenis geneem en Stuff berig hy verskyn Donderdag in die Hutt Valley-distrikshof op aanklag daarvan dat hy die publiek se veiligheid in gevaar gestel het.
James Dunne, regsverteenwoordiger vir Nieu-Seeland se Thoroughbred Racing-beheerliggaam, sê die skorsing sal geld sodra die hofverrigtinge afgehandel is. Die beheerliggaam bestuur 65 perdewedren- en jokkieklubs en 52 resiesbane.
“Ons beskou die voorval in ’n baie ernstige lig. Hy kan verwag om lewenslank geskors te word van alle klubs oor die land heen,” sê Dunne.
“Sy naam en foto sal na al ons klubs gestuur word en ook met sommige van ons internasionale vennote gedeel word.”
Volgens Dunne het die man nie net sy eie lewe in gevaar gestel nie, maar ook die van die jokkies en perde.
“Dit is slegs te danke aan geluk en die jokkies se vaardighede dat ’n tragedie vermy is,” sê hy.
Wayne Guppy, burgemeester van Upper Hutt en president van die Wellington-perdewedrenklub, sê besoekers se veiligheid is in gevaar gestel omdat onthutste perde se gedrag onvoorspelbaar is.
“Jy het diere wat 500 kg weeg wat teen 60 km/h hardloop. Om voor hulle in te hardloop, gaan die verstand te bowe,” sê hy.
“Kyk, as iemand besluit om oor drie heinings te spring en ons wagte te vermy ... Daar is net soveel onnoselheid waarteen ons kan waak.”
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie