Opsoek na u2019n lewensgids vir elke moontlike situasie
Opsoek na u2019n lewensgids vir elke moontlike situasie

Opsoek na ’n lewensgids vir elke moontlike situasie

[email protected]
Sanet de Waal
Jeanette Diergaardt

Die afgelope naweek moes ek behoorlik die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) bestudeer. Of ek die helfde van dit onthou wat ek geleer het, sal tyd nog leer. Ek wag maar vir my uitslae. As my professor hierdie lees, vergewe my, dit was nie een van my beste vraestelle van die jaar nie. Heng, die jaar was nie een van my beste akademiese jare nie.

Ek dink al die ouer mense, of moet ek liewer sê wyse mense, moet saamspan en ’n lewensgids opstel vir elke moontlike situasie. Net soos die AWS moet hierdie lewensgids gereeld hersien word met nuwe situasies en omstandighede en hoe om dit te hanteer.

Die eerste hoofstuk; jou eerste jaar uit jou ouerhuis – navigeer in die donker.

Kyk, ek weet ons almal moet uitpluis wat vir jou as mens werk, maar ’n paar riglyne het niemand nog seergemaak nie. Die wat jy ook keuses moet maak, nee dankie. In die eerste hoofstuk moet oor keuses handel en die moontlike uitkomste van elke keuse. Ons is in die 21ste eeu; kan die wetenskaplikes nie iets uitdink nie?

Taalwetenskaplikes kan proto-taal-konsepte uitwerk volgens die riglyne van ’n sekere taal. Hoekom kan ons dan nie ’n proto-lewe uitwerk nie. Sekere mense glo aan “destiny”, hoekom kan ons haar nie net ignoreer en ons eie ding doen nie. Of is hoofstuk se opskrif “Jy het geen beheer nie”, en dan is dit dit?

Baie sal weer sê lees die Bybel as ’n handleiding. Maar nee, sê vir my duidelik in ’n boek “moet nie uit jou ouerhuis trek nie!” Klaar, ek wil dit nie self uitvind nie. Dalk ook ’n hoofstuk wat handel oor vryheid wat ’n relatiewe konsep is. Want is ons rêrig ’n vry volk? As ’n samelewing is ons almal verslaaf aan iets; sukses, geld. Meestal geld. En almal wil hoër op die sosialerangleer klim. Ek is klaar moeg en ek is net 23 jaar oud.

Dis ’n baie depressiewe rubriek vandag. Depressie moet ook ’n hoofstuk op sy eie wees. Ek kan nie glo daar is mense wat op die aarde rondloop wat nie in een of ander stadium in hul lewe depressief was nie.

Sielkundige konsultasies is ook nie van die goedkoopste nie. Ons land is so in sy peetjie in, daar is net nie genoeg maatskaplike werkers om mense te help nie. Die bietjie wat nog oor is, het hulself al doodgewerk. Dit is alles ’n groot gemors. Dit gaan my verstand te bowe hoe ons ’n suksesvolle ekonomie wil bou met die meerderheid van die mense wat ongesond is. As ons staatshospitale nie eens broodnodige aandag kry nie, hoe gaan ons dan voortbeweeg. Sien, dis sulke goed wat my bloed laat kook.

Wat om te doen as die regering in bewind droogmaak – hoofstuk 4.

Immigreer, want jy kan niks daaraan doen nie. “Take a look at yourself and then make the change,” so sing Michael Jackson, maar hoe kyk ek na myself en verander ’n hele nasie. Die ergste van alles is ons vat die regering aan oor aborsie, maar die mediese ondersteuning wat beskikbaar is, is nie volhoubaar nie. Ek is raadop.

Kry nuwe lus vir die lewe – hoofstuk 10

Ek het nou die dag ’n praatjie bygewoon oor hoe om jouself te “unstuck”. Die spreker het letterlik gesê, immigreer en word ’n kelnerin in ’n ander land. My vraag is, as jy nie gelukkig is met waar jy nou in jou lewe is nie, wie sê jy sal gelukkig in ’n ander land wees. Miskien is ons geluk net ’n gedagte weg. Dalk moet jy net jou denkwyse oor ’n paar voorgestelde idees verander.

Ek het nie antwoorde nie, so as julle het, deel dit asseblief met my. En voor jy Christenskap wil voorstel, ek is klaar een en het dalk net ’n skop onder my agterstewe nodig. En ja, die hoofstukke is nog nie voltooi nie, ek tob nog daaroor.

Kommentaar

Republikein 2025-05-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer