Oorstromings ontwrig meer as 30 000 leerlinge

Leerlinge wat noodgedwonge klasse as gevolg van oorstromings en vloede mis, sal naweke en vakansies verlore werk moet inhaal.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Meer as 36 000 leerlinge word in drie streke in die noordelike en noordoostelike dele van die land geraak deur skole wat noodgedwonge as gevolg van vloede en oorstromings moes sluit.

Die Omusatistreek word die meeste geraak met 55 skole wat deur vloede geraak is, waarvan 43 tydelik gesluit of preprimêre en junior primêre klasse opgeskort is.

‘n Totaal van 19 411 leerlinge en 742 onderwysers word geraak.

Volgens die direkteur van onderwys vir die streek, mnr. Laban Shapange, maak die terrein en watervlak dit “uiters moeilik” vir onderwysers en leerlinge om toegang tot skole te kry.

“Klasse by spesifieke fases en/of die hele skool is tydelik vir leerlinge se veiligheid opgeskort. Die skoolrade en –bestuur monitor voortdurend die situasie,” het hy gesê.

Volgens Shapange sal die skole wat tans gesluit is die verlore onderrig tydens naweke en skoolvakansies inhaal.

In die Ohangwenastreek word 37 skole deur oorstromings geraak, waarvan 26 tydelik gesluit of klasse vir preprimêre en junior primêre leerlinge opgeskort is. ‘n Totaal van 15 205 leerlinge en 183 onderwysers word geraak.

In die Oshanastreek word 11 skole geraak waarvan sewe tydelik gesluit of klasse vir preprimêr en junior primêr opgeskort is. ‘n Totaal van 1 711 leerlinge en 65 onderwysers word geraak.

Skole in die Oshikotostreek word volgens die woordvoerder van die ministerie van onderwys, kuns en kultuur, mnr. Absalom Absalom, nog nie deur vloede of oorstromings geraak nie. Dit sluit egter leerlinge van die Primêre Skool Amupalala uit wat ‘n invloei van water moes oorsteek.

“Daar is geen vloedwater in Kavango-Wes nie en inligting oor Kavango-Oos en Zambezi is nog nie ontvang nie,” het hy gesê.

Volgens Absalom is dit moeilik om ‘n tydsraamwerk te verskaf oor wanneer die betrokke skole weer sal heropen.

“Op die stadium is dit moeilik om ‘n raamwerk te gee oor wanneer die watervlakke sal daal of verdwyn, maar ons monitor die situasie. In die meer ernstige gevalle het die ministerie geen ander keuse as om hierdie skole tydelik te sluit nie. Dié skole kan ander skole wat hoër op geleë is, gebruik om voort te gaan met klasse of die verlore dae op Saterdae en tydens skoolvakansies inhaal,”het Absalom gesê.

Hy het beklemtoon skoolhoofde teken die “verlore dae” aan en stel planne op om dit weer in te haal.

“Daar is nogal baie angs en vrese onder onderwysers op die stadium dat hulle nie hul skemas werk of sillabus sal kan voltooi nie. Ons moedig egter onderwysers aan om met onderwysers by ander skole in te skakel in terme van moontlike hulpbronne wat hulle dalk mag nodig hê.”

Met voortgesette reënval en watervlakke wat voortdurend styg verwag die ministerie ook meer skole loop die risiko om deur vloedwater geraak te word, sê Absalom.

Hy het egter beklemtoon streekdirektorate van onderwys het gebeurlikheidsplanne in plek om die impak van vloede met hulpbronne tot hul beskikking te bestuur. Dit sluit die verskuiwing van leerlinge na hoër grond in.

“Die ministerie is besig met behoeftebepalings en alle streekdirektorate wat geraak word, werk nou saam met skole se bestuur en streekraadslede om die situasie te monitor.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer