Oorsese belegging 'pad vorentoe' vir SA rugby
Rugby
Stephen Nell – Die heil van Suid-Afrika se rugbyunies lê in die hande van oorsese beleggers, meen die gewese Springbok-kaptein Corné Krige.
Krige, 'n legende van die Westelike Provinsie wat die Curriebeker in 2000 en 2001 gelig het, was aan die woord in 'n #RugbyUnites-sessie in Kaapstad, waar hy en ander uitgetrede en huidige spelers kospakkies vir behoeftiges gepak het.
“Ek dink die toekoms van rugby, veral in Suid-Afrika, is oorsese mense wat wil belê, soos Amerikaners nou (by die Westelike Provinsie) wil maak,” het hy gesê.
“Hulle moet toegelaat word om belange van 75% of meer te koop en aan te stel wie hulle wil. Dit (unies) móét professioneel raak. In hierdie stadium is rugby 'n beroepsport waarvan segmente amateur is.”
Marco V. Masotti, 'n regsgeleerde en sakeman uit Amerika, is aan die spits van 'n konsortium wat 'n beherende belang in die WP-rugbyunie (WPRU) se sakevleuel wil bekom.
Masotti, 'n oud-Suid-Afrikaner, wil egter die direksie beheer, wat sal beteken dat verkose beamptes hulle nie by die bestuur van beroepsrugby sal kan inmeng nie.
'n Poging deur die WPRU se amateurarm om van die onafhanklike direkteur André van der Veen op die sakevleuel se direksie ontslae te raak – wetend dat dit hy is wat die Amerikaanse belegger gevind het – is straks 'n onheilspellende voorbode.
John Dobson, die Stormers en WP se hoofafrigter, rapporteer aan Van der Veen.
“Dit kan nie so werk dat honderd klubs 'n unie gyselaar hou omdat hulle stemreg het nie,” sê Krige.
“As die ouens uit Amerika 75% van die aandele wil koop, móét hulle dit kan doen. Dan moet hulle die unie soos 'n onderneming bestuur en alles doen soos dit in Amerika gedoen word.
“Of die ouens in beheer dit sal toelaat, sal ons maar moet sien. Dit (oorsese belegging) gaan met die verloop van tyd egter 'n normale verskynsel word. Dit sal móét gebeur.”
Indien 'n oorsese belegger 'n beherende belang in die WPRU se sakevleuel verkry, sal hy ook in die toekoms 'n afrigter van sy keuse en ook die uitvoerende hoof wil aanstel.
Gerugte wil dit hê dat die unie “vetoreg” wil hê wanneer dit kom by die aanstel van 'n afrigter, maar dit is onwaarskynlik dat die belegger dit sal toelaat.
Krige reken Masotti se belangstelling is 'n “gulde geleentheid” vir die WPRU.
“Ek hoop net mense (WP se baadjiedraers) plaas die WP se belange bo eie gewin. Die regte ding is om eie gewin opsy te skuif en met daardie ouens saam te gaan. En as hulle algehele beheer wil hê, gee dit vir hulle. Die WP sal dán een van die sterkste unies ter wêreld wees.
“Maar gaan die kalkoen vir Kersfees stem? Heel waarskynlik nie.”
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie