• Tuisblad
  • Sake
  • 'Oornameteiken' Peregrine wil nou waarde ontsluit
'Oornameteiken' Peregrine wil nou waarde ontsluit
'Oornameteiken' Peregrine wil nou waarde ontsluit

'Oornameteiken' Peregrine wil nou waarde ontsluit

Estelle de Bruyn
Die Kaapse batebestuurder Peregrine – wat al geruime tyd 'n oornameteiken is omdat hy baie kontant op sy balansstaat het – oorweeg nou maniere om waarde te ontsluit.

Volgens Jonathan Hertz (44), uitvoerende hoof van Peregrine, wil hulle 'n nuwe beleggingsmaatskappy begin of dalk hul oortollige kontant aan aandeelhouers uitkeer.

Die maatskappy besit die helfte van die raadgewende maatskappy Java Capital.

Peregrine het sowat R1,5 miljard se kontant op sy balansstaat wat gebruik kan word om 'n nuwe onderneming mee te begin, volgens Hertz.

“Die opgehoopte wins wat Peregrine verdien het oor die jare en nie as 'n dividend uitbetaal het nie, het aansienlik geraak en oorskry die bates wat nodig is om die onderneming te bedryf.

“Een van die probleme wat Peregrine het, is dat sy balansstaat relatief tot sy grootte redelik groot is.”

Hertz sê die maatskappy “oorweeg dit of die oortollige geld aan aandeelhouers regstreeks uitbetaal moet word of in die vorm van 'n beleggingsvoertuig waarin aandeelhouers 'n belang kan besit”.

Hy sê as die bedryfsmaatskappy afsonderlik van die moedermaat­skappy staan, sal die maatskappy makliker waardeer kan word en sy wisselvallige verdienste kan vermy word.

Sowat R600 miljoen van die maat­skappy se eie kontant is in sy verskansingsfonds Peregrine Capital belê.

Peregrine het einde September R105 miljard se bates onder bestuur gehad.

Volgens hom word “redelik baie werk” tans gedoen om die herstrukturering van die onderneming te ondersoek.

Bradley Preston, 'n fondsbestuurder van Kaapstad se Mergence Asset Managers, sê die onderliggende besighede sal na verwagting 'n voortgesette gesonde inkomste toon.

“Peregrine was vir 'n ruk lank 'n potensiële oornameteiken omdat die oormaat kapitaal op sy balansstaat hom aantreklik maak, maar geen koper was nog suksesvol nie.”

“Die voorgestelde transaksie kan 'n alternatiewe manier wees om waarde te ontsluit.”

Peregrine se aandeelprys is sedert Woensdag reeds 3,5% hoër.

As die direksie sou besluit om die oortollige kapitaal van die maat­skappy se afdelings te skei, sal die bedryfsonderneming waarskynlik al sy wins, behalwe dit wat nodig is vir sy bedryfskapitaal, uitbetaal.

Die nuwe beleggingsvoertuig wat in die voorstel oorweeg word, sal bykomende kapitaal kan opneem, ongeveer die helfte van sy bates in die buiteland kan hou en moontlik teen 'n diskonto tot sy nettobatewaarde kan verhandel, volgens Hertz.

Hertz gaan einde Junie as uitvoerende hoof uittree om meer tyd te bestee aan Alpha Capital Management, 'n beleggingsbestuursmaatskappy wat in Bermuda gevestig is en wat hy in 2008 begin het.- Netwerk24/Bloomberg

Kommentaar

Republikein 2026-08-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer