Oornag ’n internetsensasie

17 February 2017 | Plaaslik
Yochanaan Coetzee - Ná ’n lang, harde dag se werk met ratkaste en enjins het ’n jong man van Okahandja ’n held en sosiale mediasensasie geword, ná die verspreiding van ’n video van hoe hy twee berugte misdadigers in Windhoek se strate op hul plek sit.
Die opname, wat teen gistermiddag reeds meer as 330 000 gekyk is, wys die dramatiese uitkoms nadat die 30-jarige Stefan Mans en sy kollegas JF van Eeden en Horst Hans drie boewe vasgekeer het nadat hulle toegang verkry het tot ’n kliënt se voertuig – terwyl sy in die bestuurdersitplek was.
Mev. Hannelie Koen-Rossouw het Woensdag omstreeks 16:00 vlugtig by haar motorhandelaar stilgehou vir advies oor ’n kleinerige probleem met haar motor. Skielik het drie mans na bewering glo haar agterdeur oopgemaak en daarna die bestuurder se deur.
’n Geskokte werknemer van die motorhandelaar het geskree toe sy dit sien gebeur. Dit het die aandag van haar kollegas getrek en die mans het dus weggehardloop toe hulle mense uit die gebou sien kom.
Van Eeden vertel hy het pas in sy kantoor gekom, toe hy sien sy foon lui aanhoudend. “My kollega het aangehardloop gekom en iets gesê van, ‘die mans’. Al wat ek kon uitmaak, was ‘kom, ons moet vir Stefan gaan ondersteun’.”
Toe Mans van die voorval hoor, het hy agter die mans aan gery, totdat hy te voet verder moes gaan toe die verdagtes oor ’n treinspoor verder af in die straat ontvlug het.
“Wat my die meeste verbaas het, was dat hulle net ’n kort entjie gehardloop het en van daar af kalm gestap, grappies gemaak en kardeure se handvatsels probeer oopmaak het soos hulle gestap het,” sê Mans. Hy het die polisie probeer bel terwyl hy hulle agtervolg het.
Sy kollegas, Van Eeden en Hans, het vooruit gery om die manne vas te keer. Dié ontmoeting het voor ’n meubelwinkel in die Suidelike Nywerheidsgebied gebeur.
“Aanvanklik was die ouens kalm, maar toe ons weier om hulle te laat wegkom voordat die polisie opdaag, het die situasie baie gou gespanne geraak,” het Hans vertel.
Hier is waar die video begin (wat ook op ons webwerf gesien kan word). Die ouer verdagte en Mans kan gesien word waar hulle handgemeen raak. ’n Tweede man kom by wat dreig om met ’n skerp voorwerp in te klim en hardloop na ’n vullisdrom om ’n glasbottel te vind. Van Eeden het die tweede man gegryp en die bottel uit sy hande gekry, terwyl Mans en die ouer man houe na mekaar mik.
Terselfdertyd is Hans agter die derde man aan, maar die jong man het in die geharwar weggeglip.
Van Eeden sê: “Toe die een wat ek gehad het, loskom en vir Stefan aanval, toe sê Stefan net hy sal dit hanteer. En hy het toe wragtig.”
Kalm en berekend, met vernuftige voetwerk en ’n venynige linkerhaakhou, het Mans die twee mans op ’n afstand gehou.
Die voorval het glo nog lank nadat die video eindig, aangehou. Die twee groepe asook ’n groot groep omstanders het saam beweeg en van tyd tot tyd gebots namate die twee misdadigers met bottels en bakstene hul pad probeer oopveg het om in ’n nabygeleë rivierloop te ontsnap.
Mans sê: “Wat baie aanmoedigend was, was hoe die mense wat daar was vir die ouens gesê het as hulle ’n baksteen gooi of iemand met ’n bottel steek, sal hulle met die massa te doen kry.
“Dit was ’n stryd en totaal uitputtend, maar gelukkig het ’n polisieman ons gevind en bystand van die spesiale veldmag se kantoor gekry.”
Die twee verdagtes is in hegtenis geneem, maar is glo later vrygelaat omdat geen klag teen hulle ingedien is nie. Dit word beweer dat Rossouw te skok was deur die voorval om die klag daai tyd te maak, maar Republikein kan bevestig dat ’n klag wel gister teen die mans ingedien is.
Toe Mans gevra is of hy bang was tydens die insident, het hy laggend geantwoord: “Ja, maar meer oor wat my vrou en my baas sou sê.
“Gelukkig was my baas in sy skik dat ons ingegryp het om ’n kliënt te beskerm. Sedert die openbare reaksie is my vrou ook verlig dat soveel mense oral in die land hierdeur bymekaar gebring is en dat die voorval nie erger handuit geruk het nie.
“Dis nie net omdat dit ons kliënt was nie, maar ek moet sê dat wanneer jy by ons koop, is jou vuiligheid in die warranty ingesluit.”
As lid van die Okahandja buurtwag en ’n polisiereservis in opleiding, is Mans se verbintenis tot sy medemens in woord en daad duidelik. “Ons moet saamstaan, betrokke raak en nie net toekyk hoe misdaad gebeur nie.”
Oor beweringe dat die mans hom gedreig het, sê Mans hy staan by sy optrede en sal nie vir misdadigers terugstaan nie.
“Maar soos ek nou lyfseer voel, moet hulle my omtrent ’n week gee, dan kan ons weer probeer,” sê hy met ’n glimlag.

Soortgelyk

 

Die SME Bank kry uitspraak

10 ure gelede | Howe

Jacqueline Louw – Regter Shafimana Ueitele het gister beslis dat die aansoek wat deur die topamptenare en direkteure van die SME Bank teen die Bank...

Transaksie met Chinese gestop

10 ure gelede | Ministeries

Estelle de Bruyn - Die ministerie van verdediging het in die vorige finansiële jaar ‘n bedrag van N$653 794 000 aan die tesourie terugbetaal.Dit ná...

Namibië laat die voete jeuk

10 ure gelede | In beeld

Dit is plekke soos Bloedkopje in die Namib, afgeneem deur Johann van Schalkwyk, wat Namibiërs se voete laat jeuk om hierdie langnaweek weer die...

ID4Africa in Namibië

10 ure gelede | Gebeure

Estelle de BruynNamibië is van vandag af tot Vrydag die gasheer van die derde konferensie oor identiteitsdokumente vir Afrika - ID4Africa. Die tema van vanjaar...

Jan Robbertze verloor sy stryd teen kanker

10 ure gelede | Mense

Een van die grondleggers van die Namibiese vleisuitvoerbedryf, mnr. Jan Robbertze, is Maandag­oggend in die ouderdom van 82 jaar in 'n aftreeoord in die Paarl...

Weer vir 26 April 2017

10 ure gelede | Weer

BINNHELAND: Miskolle aanvanklik, maar elders sal dit gedeeltelik bewolk en matig tot warm wees met enkele buie in die streke van Zambezi, Khomas en //Kharas.KUS:...

Geen tronkstraf vir horingsmokkelaar

10 ure gelede | Omgewing

Francoise Steynberg - Die Chinese burger Ye Zhiwei (29) wat 18 renosterho­rings deur die Internasionale Lughawe Hosea Kutako via Johannesburg na Hongkong probeer smokkel het,...

Kai Rust laat vaar derde borgtogpoging

10 ure gelede | Howe

Jana-Mari Smith - 'n Derde borgtogaansoek sou gister in die streekhof in Windhoek aangehoor word in die saak van moordbeskuldigde Kai Rust, wat al meer...

Gevangene ontsnap uit polisieselle

10 ure gelede | Misdaad

Tanja Bause Die 21-jarige mnr. Johannes Immanuel het tussen Vrydagnag en Saterdagoggend uit die polisie­selle op Omaruru ontsnap. Volgens adjunkkommissaris Erastus Iikuyu, van die Namibiese...