• Tuisblad
  • Sake
  • Oorgrenslewering moontlik met moderne slagpale

Oorgrenslewering moontlik met moderne slagpale

A-klas verwerkings vir plaaslike verbruikers
Gerine Hoff
Deon Eysele - Beefcor Suppliers se moderne aanleg suid van Okahandja is een van die grootste nywerhede in die omgewing, en in die bietjie meer as 'n maand wat hulle operasioneel is, is al meer as 1 600 bees daar geslag.
Die multimiljoen dollar aanleg waaraan vier jaar gelede begin beplan en gebou is, is die breinkind van mnr. Fanna du Rand. Dit is só ingerig dat bees, skaap en wild daar geslag kan word en die afgelope paar weke het die slaglyn in produksie gekom.
Die standaard van die slaglyn en alle prosedures voldoen aan die streng voorwaardes wat deur uitvoerowerhede gestel word, maar op die oomblik, sê die operasionele bestuurder van die onderneming, mnr. Stephan du Rand, word vleis nog net aan binnelandse instansies gelewer. Hulle is volgens hom in die proses om amptelike goedkeuring te verkry vir uitvoere na SADC-lande en dié kan glo binnekort realiseer.
Die moderne en goed toegeruste aanleg het die kapasiteit om 120 bees per dag te slag, meer as 700 skaap en sowat 70 groot wildsbokke.
“Afgesien van die bees wat ons per dag kan slag, het ons 'n bykomende kapasiteit van 20 persent wat in werking gestel kan word indien dit nodig is. Vir elke bees, kan ses skaap geslag word. Dit is natuurlik of die een of die ander. Jy kan byvoorbeeld in die oggend 60 bees slag en dieselfde middag 400 skaap nadat daar eers skoongemaak is. Wat wild betref, kan ons per dag 70 groot karkasse aftrek en dieselfde dag ook nog 100 kleinvee verslag. Alles verslagtings en verwerking word uiteraard in afsonderlike operasies gedoen en in verskillende koelkamers gehang,” het Du Rand gesê.


Produkte
Afgesien van rooivleisverwerking waar karkasse en snitte in grootmaat verkoop word, is Beefcor ook groot invoerders van hoendervleis.
“Ons vervaardig feitlike alle verwerkte vleisprodukte wat in enige slaghuis gekry kan word. Dit sluit onder meer polonies, weense worsies, russians, salami en boerewors in,” het hy verduidelik.
“Sedert ons vier jaar gelde begin het met die bouery, het dit aanvanklik maar stadig gegaan omdat ons nie altyd finansiering gehad het nie, maar danksy die tussenkoms van die Ontwikkelingsbank en ander finansierings- en beplanningsvennote, kon ons ons planne deurvoer.”


Produsente
Op 'n vraag waar Beefcor die vee en wild vandaan kry wat by hulle geslag word, het hy gesê dit kom hoofsaaklik van boere en produsente in die omgewing.
Vanweë Okahandja se sentrale ligging is dit uitstekend geplaas binne die beesproduserende streek waar heelwat produsente aktief is. Voorts beskik hulle oor 'n voerkraal op Hochfeld en wanneer produsente nie kan lewer nie, kry hulle 'n deurset van daar af. Dié voerkraal het 'n kapasiteit om 1 500 bees te akkommodeer.
Veilings is op die oomblik 'n goeie bron vir slagbees en 'n groot deel van hul slagvee kom van dié veilings. Deesdae, verduidelik hy, is dit algemeen om op veilings groot aanbiedinge van tot soveel as 1 500 bees per slag te kry. Sy jonger broer, Dewald, doen aankope vir Beefcor en volgens Du Rand sorg hy dat hulle genoeg bees kry.
Skaap word hoofsaaklik uit die Suide gekry en wild word ook vir plaaslike instansies op Okahandja geslag. “Ons het onlangs begin om wildsvelle af te trek. Hoewel dit nou nog maar klein is, glo ons dat dit vorentoe ook aansienlik gaan toeneem.”


Bemarking
Du Rand verduidelik dat hulle al byna agt jaar vleis in grootmaat deur hul maatskappy Butchery on Wheels aan spyseniers voorsien.
Dié het weer leweringsooreenkomste met regeringsinstansies soos koshuise en hospitale. Die meeste myne in die land kry vleis van hulle asook groot kettinggroepe, groothandelaars, hotelle en restaurante. Du Rand sê hulle het hul eie vragmotors waarmee aflewerings landwyd gedoen word.


Produsentepryse
Op 'n vraag of Beefcor 'n vasgestelde prysskedule het waarvolgens vleisprodusente betaal word, het Du Rand gesê dat hulle uiteraard deur marktendense gebind word.
“Produsente kan seker wees dat markverwante pryse betaal word. Fynere detail soos bemarking en slagbeurte per distrik moet nog uitgesorteer word, maar ons beoog om bietjie later 'n amptelike bekendstelling van ons nuwe fasiliteite te hou waar meer inligting beskikbaar sal wees. Enigeen wat meer inligting verlang, kan met ons hoofbestuurder, mnr. Paul Zah in verbind tree by [email protected]."

Kommentaar

Republikein 2025-05-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer