Oor die peutervastrap en Piet Pompies
Ouers van peuters oordryf nie, ek belowe. Dit ís so erg. Genadiglik is dié klein mensies ook 'n onbeskryflike seën en boonop erg vermaaklik!
Jy sien dit op al die “mamma”-groepies op Facebook, waar 'n peuterma ten minste een keer 'n dag 'n bietjie raad vra. Driejarige doen die peutervastrap (gooi 'n vloermoer), hy trek die kat se stert en hy point jou met sy vet vingertjie.
Sy's moedeloos, sê sy.
“Is hy dalk doof? Of ly hy aan geheueverlies, want ek het sopas gesê moenie met 'n skroewedraaier teen die flat screen TV krap nie? Watter spesialis kan my help?”
Dalk is peutertjie hiperaktief, meen sy, want in die winkels is dit kompleet asof hy batterye ingesluk het. Hy hol deur die rakke – net tjipspakke en drinkglase wat vlieg. Jy ken peutermammas op 'n myl uit – hul gesigte is rooi en hulle sis: “Sit daai tampon terug op die rak!”
“Ag moeder, kyk hoe adorable!” koer 'n ou tannie agter 'n winkeltrollie.
“Wanneer kom die tweede enetjie?”
As dit by Jakaryntjie kom, sukkel ek om haar te leer om nie mense wat sy sien, hardop te bespreek nie.
“Mamma, wat het met daai tannie se hare gebeur?”
“Shhhhhuus!”
Sy groet ook ieder en elk en trek sommer weg met 'n storietjie. Vir een tannie vertel sy haar pappa se naam is Chris. “Maar my pappa se naam is ook Piet Pompies.” (Dit is wat manlief vir haar sê nadat sy hom die honderdste keer op een aand vra wat sy naam is).
Jip, jy beter mooi dink oor wat jy vir en voor hulle sê.
Terselfdertyd leer hulle jou om weer klein dingetjies van die lewe raak te sien en te waardeer. Jy kry die geleentheid om deur 'n kind se bewonderende oë opnuut na die skepping te kyk.
Jakaryntjie kom nou die dag na my toe aangehol met 'n piepklein miertjie wat tussen haar wysvinger en duim vasgeknyp is.
“Mamma, wat is hierdie?”
“Dis 'n miertjie.”
“O, dis 'n miertjie wat daar op die vloer gery het!”
“'n Miertjie loop my kind, hy ry nie.”
Ai tog. Jou hart mag maar smelt. Dit hou in elk geval net totdat sy 'n blommetjie uit die tuin op die mat dissekteer. Of tot sy en haar Jack Russell saam haar koeldrank van die grond af oplek.
Ek weet nie hoe gaan ek vir die dokter verduidelik hoe sy atleetvoet op haar tong gekry het nie.
En dan gooi hulle daai sagte armpies om jou nek.
“Mamma, ek lief jou. Baie, baie baie.”
Die son sak en jy is spyt, want nog 'n dag van avonture is verby en jy weet, die uurglas loop en hulle groei groot en vry.
“Wat is die slaap, 'n wondersoete ding! Sag op haar bloue oë daal die vaak soos maneskyn diep waterkuile raak . . ,” het DF Malherbe geskryf.
Eensklaps lê daar 'n wonderskone engelkind en slaap in jou bed.
Perfek, beeldskoon, volmaak in hul sluimering.
En jy dank God, want wat kon jy ooit reg doen om ooit só 'n seën te verdien?

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie