Oomblikke bo goeters
Oomblikke bo goeters

Oomblikke bo goeters

Karin Eloff
Karin Eloff - Wanneer laas het jy gedans soos daai ou omie op YouTube met sy Checkers-sakkie en sy krukkies?

En dan smyt hy daai krukkies eensklaps weg en dans dat die ou tannies se purple rinses so spat?

Wanneer laas het jy op pad werk toe vir die dikbekste mense gewaai?

Wanneer laas het jy “Bohemian Rapsody” soos ’n Smurfie probeer sing?

Of ’n meel-fight met jou kinders gehou wanneer die spanning in die huis te erg raak?

Wanneer laas het jy jou honde en jou kind in die kar gepak en gemaak of julle see toe ry, en dan ry julle net verby ’n paar fancy huise om dit te laat voel of julle met vakansie is?

Wanneer laas het jy ’n spa-dag met jou kind of jou vriendin gehou, jul voete opgesit, speel-speel cocktails gedrink en gemaak of julle Sandton-kugels met báie geld en báie tyd is?

Okay, voor dit klink of ek die kluts kwytgeraak het – hier’s my punt: Wanneer jy op jou sterfbed lê, gaan jy nie spyt wees jy kon toe nooit daai Le Creuset-pot koop nie, of daai Ford Ranger, of jou gunstelingparfuum of daai koffiemasjien wat jy al lankal eye nie.

Jy gaan nie lê en spyt wees dat jy nooit geld gehad het om jou huis oor te verf of daai nuwe sitkamerstel te koop nie.

Jy gaan spyt wees oor oomblikke wat jy dalk misgeloop het. Oomblikke waarvan jy die beste kon gemaak het. Oomblikke wat jy met die mense en diere vir wie jy die liefste is nooit weer oor sal hê nie.

Ek sê nie geld is nie belangrik nie. Ongelukkig speel ons ’n game op hierdie planeet waarin mens regtig niks sonder geld kan doen nie.

Dis net ryk of gemaklike mense wat dink geld kan nie geluk koop nie, en is nie belangrik nie. Dié van ons wat daai ongemaklike, rustelose geknaag van honger ken, die van ons wat ons besigheid in plastieksakkies moet doen, want daar is nie toilette nie, en die van ons wat elke keer as jy jou onwettige ligte aanskakel, bang is jy gaan jouself doodskok, weet geld kán geluk koop.

En baie daarvan. Opvoeding is geluk, sanitasie is geluk, gesondheid is geluk, behuising is geluk, ’n vol maag is geluk – en al daai goed kan met geld gekoop word. Ja, geluk ís soms so eenvoudig.

Maar dié van ons wat gelukkig genoeg is om gereeld ’n vol maag te hê, storte onder warm water te kan neem, en spoeltoilette tot ons beskikking het, behoort ook die emosionele krag te hê om op die ander spesiale oomblikke en voorregte in die lewe te kan fokus.

Daai lughawe-oomblikke, die ek is lief vir jou-oomblikke, die jy’s nie alleen nie-oomblikke, die I’ve got your back-oomblikke. Want dís wat jou reis na die ander kant sagter gaan maak. Of miskien maak niks dit sagter nie.

Hoe dit ook al sy, dit maak jou reis aan hiérdie kant sagter.

Mag ons hierdie Kersfees op spesiale oomblikke fokus en vergeet van ons bitterheid oor ons nie ’n moerse Kersete kan bekostig, met vakansie kan gaan, ’n bonus gekry het of vir almal presente kon koop nie.

Mag ons daai oomblikke maak en nie rondsit en wag daarvoor nie.

Kommentaar

Republikein 2025-08-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer